Die teorie van evolusie is al gekritiseer dat dit nie gebruik kan word om voorspellings te maak nie.
Dis natuurlik bog: Darwin self het al daarmee voorspellings gemaak, soos oor watter fossiele in watter soort rotse gevind behoort te word.
Maar mense vind sulke voorspellings onbevredigend; dit sê niks oor die toekoms nie. Evolusie gaan wonderlik onvoorspelbaar te werk wanneer dit – as’t ware – gelos word om in vrede te funksioneer.
Nou is daar ’n nuwe benadering tot evolusie waarmee gepoog word om hierdie wetenskap in te span om van ons wêreld, en dié van die toekoms, ’n beter plek te maak.
David Sloan Wilson, professor in biologie en antropologie, skryf The Neighborhood Project met die energie en geesdrif van ’n wedergebore Christen (verskoon die ironie): In sy navorsing het hy ’n “gloeilamp-oomblik” beleef toe hy besef evolusie kan oorspoel na ons daaglikse lewe.