Thursday, 5 February 2015

Resensie van Die vierde stem deur Francois Bloemhof

Resensie van Die vierde stem deur Francois Bloemhof

Volle ontboeseming: Ek lees nie baie Afrikaanse boeke nie. In die afgelope jare het ek net boeke gelees wat aan my gegee is deur welmenende bladredakteurs om te resenseer (hi, Jo!).
   Dit verander die ervaring. In my geval dwing dit my om hondslegte boeke klaar te lees – boeke wat ek andersins in die asdrom sou gooi.
   So, ek is ’n maagd wanneer dit kom by hierdie genre – Afrikaanse spanningsverhale. En ek het gedink ek weet wat om te verwag: clichés, studentikose filosofiese mymeringe, troopsoet karakters (ek hoop jy sien wat ek daar gedoen het: nié “stroop” nie), stereotipes en baie selfbewuste seks.
   Groot was my verbasing toe ek vind dis presies wat ek kry. Met groot bedoel ek klein.
   Op die eerste blaaie van Die vierde stem (partykeer waardeer ek ons Afrikaanse gewoonte om titels só sonder hoofletters te skryf) word groot gewag gemaak deur die helpmekaarspan van ander Afrikaanse skrywers van Francois Bloemhof se vermoë om te boei en te ril. Siniese lofbetuiginge, in my opinie.
   Wat die storie betref: ’n Neurotiese vrou met ’n geheime bywoner, ’n sielkundige wat kan hack (“kuberkraker” sê die boek, want sy gekose mark sal ril van lekkerkry by die aanhoor van hierdie Orania-woord), en ’n skrywer wat Herman Lategan genoop het om die woord “kuisheidsgordels” in sy Rapport-resensie te laat gebruik... En een idee: ’n variasie op die “vierde muur” van die uitvoerende kunste.
   Baie slim, sê hy sarkasties.
   Hierdie massamarkstorie doen uiteindelik voor as ’n potloodskets van ’n idee, met elke lyn net getrek om te beur tot by die eindstreep. Maar in die blaaie waardeur die leser moet werk, is daar ’n algehele gebrek aan vindingrykheid. Die taalgebruik is keurig plat, koerantstyl, skoolstyl. Niks humor en woordspel nie; geen betrekking van die sintuie nie; jy sien niks, jy hoor niks, dis net... stemme. Liggaamlose stemme in ’n bewussynstroom wat eenvoudig vir jou vertel wat gebeur. Jy sien niemand se angs nie, iemand sê maar net hulle is beangs en jy moet hulle woord vat. My voorskrif is ’n dosis Cormac McCarthy, dan kom sien jy my weer môreoggend. (Clichés is eerlik, volgens die boek.)
   Daar is niks vermaakliks aan hierdie boek nie. Dis net ’n skets van ’n idee wat uiteindelik tog ’n vindingryke skildery kon gewees het. Maar met geen normale karakters by wie ons kan aanklank vind nie, geen vermaaklike sinne nie, geen propperse beskrywings nie en die humor van ’n busongeluk is hierdie net ’n siniese poging om ’n baie spesifieke mark te ontgin – ouerige Afrikaanse tannies (hi, Ma!).

Friday, 11 October 2013

Dan Brown: Swak skrywer, goeie verteller

Inferno deur Dan Brown. Uitgewer: Doubleday.

Het verskyn in Rapport, 14 Julie 2013.

Die beste ding omtrent Inferno van Dan Brown is al die parodieë wat dit tot gevolg gehad het. Die arme resensente voel aan hulle is impotent teen die fenomeen van Brown se hipergewilde boeke. 

Dit help skaars hulle trek die skryfstyl uitmekaar of wys op die clichés en onnodige herhalings in die teks, die onlogiese storielyn, die wisselvallige verhouding met die werklike historiese gegewe, die gemengde metafoor, die kitsvermaak-resepmatigheid, die deursigtig-dun karakters... 

Shame, maak nie saak wat resensente oor die literêre waarde van sy boeke te sê het nie, dit gaan verkoop soos koekies met baie suiker in. So, in hul impotente woede skryf hulle skreeusnaakse artikels in die purple styl van die boeke – dit is al wat ons kán doen. Gaan soek op die internet by The Guardian enThe Daily Telegraph.

As dít Brown se grootste bydrae is, dan is dit al klaar goed so. 

Ons kan natuurlik binnekort die fliekweergawe van die boek verwag, met ’n toenemend afgeleefde Tom Hanks in die rol van die “ikonoloog en simboloog” (’n fiktiewe terrein van studie) Robert Langdon. 

Saam met hom in dié boek is die jong wonderkind Sienna Brooks (vasweg gegrond op die Lisbeth Salander­karakter van die Millennium-trilogie).

Saam takel hulle ’n raaisel wat wentel om Dante se La Divina Commedia, en maak daarvan iets minder as “divina” en allermins “commedia”.

Langdon word wakker met geheueverlies in ’n hospitaal in Flo­rence. Hy kom agter hy het reeds ’n groot geheim ontsyfer en nou moet hy en sy onwaarskynlike hand­langer, Brooks, weer sy eie spoor navolg om, soos hulle vermoed, die wêreld van sekere uitwissing te red. 

Terselfdertyd is ’n span sinistere agente op hul spoor. Dit is, glo dit of nie, ’n resies teen tyd, maar die bose meesterbrein (of dalk versiende ideoloog?) Bertrand Zobrist bly – al is hy reeds dood – hulle een stappie voor.

Die element wat van Da Vinci ­Code so ’n treffer gemaak het, is weer hier: stom-eenvoudige raaisels wat die leser kan uitpluis 27 bladsye voor die hoofkarakter aandui dat hy snap wat aangaan. 

Brown het reeds sy tande in godsdiens en internasionale politiek geslaan met sy vorige boeke; nou pak hy oorbevolking en die hel van wedywering en konflik wat dit oënskynlik tot gevolg gaan hê. 

Dit dien geen doel om verder oor die storie aan te gaan nie. As jy van Brown hou, gaan jy mal wees oor hierdie boek – en hoekom dan nie?

Brown weet van storie-verpakking. Alles speel af in die bestek van 24 uur; die hoofstukke is lekker kort sodat ’n mens kan gaan koffie maak sonder om iets mis te loop; beskrywings is voetstoots en visueel sodat die regisseur kan weet wat aangaan; en die product placement is afge­handel.

Die boek se einde is selfs moreel bedenklik, gereed om eindelose kletsprogram-gesprekke aan te vuur wanneer die fliek uitgereik word.

’n Mens wonder soms of Brown nie dalk reeds sy eie werk parodieer nie?

Enige skrywer van aksie-rillers behoort kennis te neem van die dinge wat Dan Brown regkry in sy stories. Hy trek die gewone leser in en kry dit reg om die aandag te fokus op die smoke and mirrors, sodat ’n mens ongeduldig bo-oor die swak plekke lees. 

Aan die ander kant: Daar is so baie swak plekke dat dit enige na­betragting van die boek oorheers.

Dit wys jy kan ’n swak skrywer wees en ’n goeie storie vertel, seker ook die teenoorgestelde. Miskien kry Brown eendag albei gelyk reg.

Broodnodige vertelling, ongeslaagde formaat

Moord en roof: In die kop van ’n baasspeurder deur Albert Blake. 

Het verskyn in Rapport se Boeke-bylae, 6 Oktober 2013.

Die ware verhaal van ’n baasspeurder in die Wes-Randse moord-en-roof-eenheid... Dít skep verwagtinge: ’n Bietjie speurwerk, byvoorbeeld, sou miskien ’n rol moet speel. 

Die speurwerk hier kan soos volg opgesom word: “Ná intense speurwerk is die verdagtes aangekeer”; of “Ná hulle inligting van informante ontvang het, is die verdagtes vasgekeer”; of “Absoluut toevallig het hulle die verdagtes vasgekeer/doodgeskiet”. Die einde van die speurwerk.

Dit is nie dat dit ’n slegte boek is nie. Hy is suksesvol vir wat hy probeer wees binnekant die omslag: ’n geskiedkundige boek van rekord. 

Dit is net dat die omslag hom soos een of ander spannende speurverhaal wil laat lyk.

In der waarheid is daar ’n kort opsomming van Charles Miller se omstandighede, behendig en simpatiek gedoen, gevolg deur anekdote op anekdote op (sieldodende) gewelddadige dog kliniese anekdote.

Hierdie storie van ’n wit, rassistiese man wat onder onmoontlike omstandighede die smerige vuilwerk van ’n desperate 1970’s- en 1980’s-apartheidsregering gedoen het, verdien om vertel en gehoor te word. Dit moet dalk veral deur ons nie-Afrikaanse landgenote gehoor word, as ’n soort rekord van onmenslikheid en ’n insig in wat dit aan ons wit gemoedere gedoen het van die binnekant af.

In die formaat wat dit hier op my lessenaar lê, het ek egter nie veel hoop dit gaan ernstig opgeneem word nie.

Ek het respek vir die skrywer wat so ’n sensitiewe stuk ervaring menslik probeer aanbied, en moes elke nou en dan myself herinner ons praat eintlik hier van ’n man wat as ’n gewillige handpop menige maal vyande van die regering doodgemaak het.

En ek dink ons almal met ’n bleek gelaat het daardie ervaring ná apartheid: Dat ons iemand ken, miskien in ons familiekring, wat eenvoudig in ’n sekere sin heeltemal verlore is vir die samesyn van die reënboognasie, maar wat op ander terreine steeds ’n sagte hartjie blyk te hê. Dan sit ons met daardie dualiteit waar ’n mens wil verskoning maak aan die wêreld: “Ag, oom Kallie (of wie ook al) is eintlik baie nice,” ensovoorts, maar net nie met swart mense nie... 

Nietemin: Dié boek bied sy anekdotes in beendroë boekafrikaans, soos ’n stuk of 300 redaksionele kommentare in ’n ry. Hy bied dit eerlik aan, bewus van die problematiek én bewus van die slagoffers én bewus van die wit polisiemanne se eie slagofferskap – ’n baie dun en eensame paadjie om te stap.

Ongelukkig – weens die polities korrekte walgooi wat dit behels – kom dit soms ’n bietjie apologeties voor. 

As toegif is daar ’n argument vir die doodstraf wat ek nog nie oorweeg het nie. Dié harde polisiemanne het monsters en misdadigers gejag sonder ophou, totdat hulle gevang of dood was. En as hulle gevang is, het die speurders hul regstaak sorgvuldig en deeglik gedoen, want die doodstraf was vir hulle ’n beloning vir hul harde werk. 

Doodstraf as motivering vir goeie polisiëring... Wie sou kon dink?

Dié boek ís interessante leesstof, maar die kliniese taal en vertelstyl maak dit nie juis ’n lekker ervaring nie en ’n mens kry gou die punt: It was a dirty job, but (apparently) someone had to do it. 

Thursday, 23 August 2012

Resensie: Kruitvat deur Henning Janse van Vuuren

tl;dr: Baie lekker boek wat uitstaan bo enige spanningsverhale agv. sy uitstekende karaktergedrewe interaksie.

Dis moeilik om ’n realistiese boek in Afrikaans te skryf. Ons meng ons tale en kulture so baie dat dit fyn handwerk verg om niemand aanstoot te gee nie; om polities bo verdenking te bly; om die taal van gewone mense, maar ook suiwer of vernuwende Afrikaans te gebruik.

En hierdie oorwegings is maar net ’n paar van die duisende ander wat mense maklik van jou storie kan vervreem en daardie allerbelangrike suspension of disbelief ’n doodskoot in die agterkop gee.

Kruitvat deur Henning Janse van Vuuren is ’n triomf. Dis ’n karaktergedrewe heuningpot van intrige en spanning wat die ondenkbare regkry: Dit spin ’n storie in die hier en nou wat jou laat vergeet hy’s Afrikaans; wat enduit boei en oortuig met sy taalgebruik en gebeure; wat jou hardop laat lag en jou laat seker maak die voordeur is dig gesluit – sonder om, en dis nog een van die slaggate in Afrikaanse prosa, jou soos ’n 12-jarige te behandel.

Wednesday, 25 July 2012

Resensie-in-wording: Kruitvat deur Henning Janse van Vuuren

Kruitvat slegs elektronies beskikbaar op Amazon.

Kruitvat ook as slapband by Amazon beskikbaar.


Ek sal nie 'n geheim maak daarvan nie: Ek is moer beïndruk sover met hierdie boek.

Hier is Amazon se beskrywing:

Die jong koerantbaas op Phalaborwa, Adriaan Ferreira, het baie hooi op sy vurk. Hy het aanvanklik gedink sy koerant, Bosveldnuus, gaan 'n rustige lewe tot gevolg hê, want hoe moeilik kan dit nou wees om oor sportbyeenkomste en troues te skryf? Maar dié amateur-joernalis sit die pot heeltemal mis. Eers word 'n swart meisie noodlottig in 'n tref-en-trap-ongeluk beseer en daarna volg 'n grusame moord. Twee uiteenlopende gebeure, wil dit voorkom, maar die gerugte op die dorp vertel 'n ander storie. En die gemoedere loop hoog. Gooi by hierdie onstabiele situasie erg konserwatief-Christelike sienings, 'n Portugees wat met wapens smokkel, 'n verhouding met die verkeerde vrou en 'n vriend uit Adriaan se verlede wat ou spoke opjaag, en jy het 'n kruitvat wat wag om te ontplof. Adriaan sit dalk op die grootste – maar ook die gevaarlikste – storie van sy kort joernalistieke lewe. En hy is beslis nie toegerus vir dié een nie. Wat jy sien, is nie altyd wat jy kry nie.

EDIT: My resensie van Kruitvat is nou op Rapport se website.

Tuesday, 17 July 2012

Is Crito net nog 'n troll?

Ek dink dis tyd dat Crito bietjie aangevat word. Elke week, baie gedissiplineerd, resenseer Crito die boekresensies van Afrikaanse boeke wat in die media verskyn het -- 'n baie waardevolle diens.

Maar die anonimiteit en die luukse daarvan om sonder spertyd en radaksionele ... insette ... te werk, maak hom van tyd tot tyd self arrogant en intellektueel slordig.

Kyk, geen twyfel die ou kan homself goed uitdruk nie, maar hy moet ook darem aangevat word as hy die pot mis sit.

Sy laaste resensie van my resensie van Piet van Rooyen se boek Rodriguez het my gewys Crito lees partykeer haastig op soek na maklike punte. Die ad hominem help ook nie.

Tuesday, 3 July 2012

"Witskrif" van 'n boekresensie

Kliek hier vir Finale Weergawe in Rapport



LEES EERS: Hierdie resensie is 'n voorlopie konsepdokument. Dit is nie die finale produk nie. Ek wil 'n eksperiment doen om te sien wat die reaksie daarop sal wees, sodat die finale produk meer gerig is op lesers, en sodat daar reeds 'n gesprek bestaan wanneer dit gedruk word. Ek doen dit in my persoonlike kapasiteit. Terms and conditions apply.

Resensie: Rodriguez deur Piet van Rooyen


Ná heelwat teleurstellings die afgelope jaar, het ek baie hoop op Rodriguez geplaas.

Die flapteks beloof 'n "eg menslike verhaal deur 'n bekroonde skrywer". Die "bekroonde" is soms rede tot kommer, maar Piet van Rooyen lyk na die ware Jakob: M-Net Boekprys in 1998 vir Die olifantjagters en in 1993 die eerste prys in die Tafelberg/Sanlam/De Kat-romankompetisie vir Die Spoorsnyer.

Daarbenewens het hy al 18 boeke die lig laat sien, insluitende akademiese boeke en 'n paar digbundels, wat almal redelik goeie resensies gekry het. Hy is tans professor in politieke wetenskap by die Universiteit van Namibië, met 'n agtergrond in antropologie.

Benewens bogenoemde benewens, is hy van die Ernest Hemingway-skool: buitelug, aksie en avontuur -- "manlike" dinge, en nie skaam daaroor nie.

Monday, 25 June 2012

Resensie: Die twee lewens van Dieter Ondracek deur André Krüger


Die twee lewens van Dieter Ondracek deur André Krüger

tl;dr: Te veel eksposisie maak die aksie dood. Probeer hy 'n Nazi verskoon vir sy dade? -- want as blote verduideliking stort dit in duie...

Dié boek ruk jou uit Suid-Afrika, en selfs uit Afrikaans, tot in Duitsland voor die Tweede Wêreldoorlog, en dít is sy grootste prestasie.

Tot 20 000 spoorwegwerkers in Nazi-Duitsland het geweet hulle pleeg massamoord, en is nooit vervolg nie.

In Die twee lewens van Dieter Ondracek ontmoet ons een, die ingenieur Dieter Ondracek. Treine is sy passie. Ons volg sy genesis as die een wat die treine laat loop na die konsentrasiekampe. Ons volg sy opgang, sy val, sy vernedering, en sy hervestiging, as Nazi-vlugteling in Suid-Afrika, waar hy skuil van sy verlede, en van Simon Wiesenthal.

Saturday, 12 May 2012

Resensie: Poppekas deur Deborah Steinmair


tl;dr: Dis okay, maar nie regtig vir grootmense nie.

’n Slim, jong vrou, ’n geheimsinnige verdwyning, ’n duistere geheim (die beste soort!) en ’n kleinhuisie vol sushi...

Deborah Steinmair se Poppekas, ’n energieke en spannende boek, is wonderlik: ’n storie met gewone woorde wat styf gespan is, eerder as lang, slap woorde wat ’n gebrek aan spanning moet wegsteek. 

Wat jy ook al dink van daardie rampgebied bekend as The Da Vinci Code, dis meesterlik vir die aandaggebrekkige leser ontwerp en mooi visueel in kort hoofstukkies verpak vir Hollywood: kits-draaiboek. 

Met geen bedoeling van aanstoot nie: Poppekas is ook só aanmekaargesit. 

Saturday, 5 May 2012

Resensie: Clarence van Buuren: Die man agter die donkerbril deur Chris Marnewick

tl;dr: Selfs al het jy nog nooit van Clarence van Buuren gehoor nie, sal die boek jou aandag hou, opvoed in analitiese denke en jou verbeelding prikkel.


Onlangs lees ek ’n boek oor antieke Egipte. ’n Farao marsjeer noord na wat nou Sirië is om daar te gaan oorlog maak. Hy slaap oor in ’n klein dorpie aan die kus van Palestina.

Dié aand lê hy alleen in ’n kamer, sukkel om te slaap, kyk na die wind wat die boomtakke buite die venster rondwaai.

Ons weet hiervan, want hy het dit die volgende dag op ’n stuk papirus neergeskryf. 

Dit was 3 000 jaar gelede.

Thursday, 23 February 2012

This accident was no accident


Humphrey Mmemezi
tl;dr: Mmemezi says his blue light accident was "just like any other". It wasn't: It was a blue light accident. How much more Pythonesque can you be, without actually being John Cleese?

Here is what Gauteng MEC for Housing Humphrey Mmemezi, told Beeld today about the accident caused by his official vehicle that left teenager Thomas Ferreira with brain damage:
"People should not be ridiculous and politicise this accident, just because a blue-light vehicle was involved. This was an accident just like any other." (reported by IOL, 23 February 2012)

Tuesday, 21 February 2012

Hoe help mens vir Kristin Swarts?

Christina en Francois Swarts met Kristin.
tl;dr: Desperate ouers wil hul kind vir duur kankerbehandeling stuur by 'n verdagte dokter in Amerika. Dis dalk hulle laaste hoop. Watse raad gee mens hulle?


Die Omstandighede

Hoe ver sal jy gaan as jy jou kind se lewe wil red? Die ouers van Kristin Swarts, 'n driejarige van Atlantis in die Wes-Kaap wil Texas toe gaan, maar daarvoor het hulle groot geld nodig.

Rapport het laas Sondag van Kristin se stryd teen 'n soort breinstamkanker, genaamd ponsglioom, berig.

As agtergrondinformasie noem hulle bloot die feit dat die Swarts-gesin beplan om Kristin na 'n dr. Stanislaw Burzynski van Houston, Texas te stuur. Die feit dat ek weet daar is geen gevorderde kankerbehandeling wat nie hier in Suid-Afrika aangebied kan word nie het dadelik 'n rooi lig by my laat afgaan.

'n Enkele soektog op Google was genoeg om my tientalle skakels te gee wat toon dat hierdie dr. Stanislaw Burzynski nie heeltemal die wonderwerker is wat a.) die Swarts'e dink hy is nie en b.) hy voorgee hy is nie.

Resensie: So lig soos klip deur Jacques Pretorius


tl;dr: Hoekom kan Afrikaanse skrywers nie net stories vertel nie? Back to basics vir julle almal.

Vroeg in So lig soos klip sê die verteller: “Daar is vir hulle gelees en gebid, en die res van die dag is hulle opgefok en uitgekak.”

Die boek handel oor ’n seun van Fietas (Pageview en Vrededorp) in Johannesburg wat deur sy armoede en sy ouers afgeknou word en dan nog deur God, die staat en die polisie in ’n loop gelaai word om te dien as kanonvoer teen die swart, rooi en veralgemeende totale aanslae. 

As jy wit en oor 30 is, is dit die storie van jou lewe. (They fuck you up, your mum and dad, sê Philip Larkin; hy bly relevant regdeur die boek. ) 

Die kind, wat naamloos bly, is ten gronde ’n goeie mens (gebore in onskuld, ens.), maar die skuldgevoelens van godsdiens en die atmosfeer van militarisme, waar die doel altyd die middele heilig, maak van hom ’n emosionele slagveld. 

Friday, 17 February 2012

Omstander-effek en die dood van Wang Yue

Sedert 18 verbygangers onlangs versuim het om ’n Chinese meisie te help nadat sy omgery is, word oor Chinese waardes en moraliteit besin. Het die nuwe empire empatie? vra kritici. Oppas, ook die Weste ly aan hierdie sindroom... 

’n Twee jarige kleuter drentel in die straat. ’n Aflewerings wa, sy kopligte uitgedoof, ry op haar af. Die wa stamp haar en ry met sy voor wiel bo oor haar. Die bestuurder stop, aarsel. Dan ry hy ook met sy agter wiel oor die kind.


Die eerste man wat verby stap, móét die ongeluk sien gebeur het – hy was net meters agter die motor. Die tweede man draai met sy fiets uit om die meisie te mis. ’n Minuut ná die ongeluk ry ’n tweede voertuig, ook sonder kopligte, bo-oor haar voet. ’n Ma en dogter stap hand aan hand verby en kyk na die kind, maar stop nie. Iemand op ’n bromponie kom tot stilstand, gee een kyk en ry weg.

Resensie: The Neighborhood Project deur David Sloan Wilson


Die teorie van evolusie is al gekritiseer dat dit nie gebruik kan word om voorspellings te maak nie.

Dis natuurlik bog: Darwin self het al daarmee voorspellings gemaak, soos oor watter fossiele in watter soort rotse gevind behoort te word.

Maar mense vind sulke voorspellings onbevredigend; dit sê niks oor die toekoms nie. Evolusie gaan wonderlik onvoorspelbaar te werk wanneer dit – as’t ware – gelos word om in vrede te funksioneer.

Nou is daar ’n nuwe benadering tot evolusie waarmee gepoog word om hierdie wetenskap in te span om van ons wêreld, en dié van die toekoms, ’n beter plek te maak.

David Sloan Wilson, professor in biologie en antropologie, skryf The Neighborhood Project met die energie en geesdrif van ’n wedergebore Christen (verskoon die ironie): In sy navorsing het hy ’n “gloeilamp-oomblik” beleef toe hy besef evolusie kan oorspoel na ons daaglikse lewe.

Resensie: The Fat Years deur Chan Koonchung


Chan Koonchung is in Shanghai gebore, en het in Hong Kong en Taiwan grootgeword, maar woon tans in Beijing. Hy het al tydskrifte, TV-kanale en internet firmas gestig en talle boeke en essays geskryf.

In die 1990’s het hy Hong Kong permanent verruil vir Beijing om nader aan die hart van die opwinding van die Chinese ontwaking te wees.

Sy boek The Fat Years het met sy publikasie in Hong Kong ’n stroom belangstelling onder intellektuele en jong afvalliges veroorsaak. Die boek versprei goed op die vasteland, al word dit nie daar uitgegee nie.

The Fat Years is spekulatiewe fiksie wat slegs twee jaar die toekoms in afspeel.

In 2013 kondig die Chinese regering amptelik die aanvang van die “Goue Era van Chinese Meesterskap” aan. Die wêreld beleef ’n ekonomiese krisis. Markte in die Weste is in chaos, maar China ontkom wonderbaarlik aan die apokaliptiese insinking.

Resensie: Die kamferkis deur Sjane van Aswegen


Die kamferkis deur Sjane van Aswegen. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R130.
Kamferhout is bitter, en dit hou die motte weg. Dis hoekom hulle in die ou dae trousseau-kissies daarvan gemaak het.

Maar pasop wat jy daarin sit: Aan die einde van jou lewe het jy dalk ’n vars klomp bitterheid.

Sjane van Aswegen skryf in Die kamferkis ’n kort, op die man af verhaal oor bitterheid, berou en oudword.

Ons ontmoet die korrelkop tannie Mien de Jager in ’n ouetehuis waar sy hardkoppig skop teen haar liggaamlike aftakeling en die neerhalende manier waarop jong mense haar behandel. Haar verhaal ontvou uit haar herinneringe, wat sy sorgvuldig wegbêre in haar oorgeërfde kamferhoutkissie.

Eens was sy ’n wonderlike jong meisie, tot barstens toe vol liefde en talent. Toe ontmoet sy ’n jong man op ’n familievakansie. Die liefde blom.

Wednesday, 21 September 2011

Resensie: The Unexploded Boer deur Erich Rautenbach


Verbeel jou almal in die wêreld skryf ’n outobiografie. Nie almal van daardie boeke sal interessant wees om te lees nie. Hierdie boek is ongelukkig een van hulle.

Erich Rautenbach vertel in The Unexploded Boer van sy komplekse jeug in die 1970’s in die rock ’n’ roll- en dwelmkultuur van Kaapstad en Johannesburg.

Hy skets ’n dissonante tyd: Apartheid is op sy hoogtepunt en fisieke onderdrukking vier hoogty, maar dit is ook die tyd van vrede, liefde, groovy tye, soel somernagte by rock-konserte… Dié dualiteit verskerp sy vervreemding: as ’n kind uit ’n disfunksionele familie, slagoffer van ’n pedofiel, tussenweefsel tussen Afrikaner en Engelsman, vaagweg bewus van die land se vergrype en onreg, maar stomgeslaan deur die totaliteit van die lewe.

Dis die storie soos dit aan ’n spookskrywer vertel sou word, vóór die spookskrywer die geheel saamsnoer om ’n spannende narratief, met bykomstighede soos karakters en plekke, in te sluit.

Saturday, 3 September 2011

Resensie: Die verste uur deur Steve Hofmeyr


Die verste uur is ’n kortstorie oor ’n student, Jamie van der Merwe, wat in ’n ou professor se geskrifte oor die Franse komponis Jean-Philippe Rameau ’n manier vind om terug te reis in tyd.

Rameau wou op sy dag ’n soort theory of everything vir musiek skep, en in dié storie kry Van der Merwe per abuis die spesifieke akkoorde wat jou bewussyn terugstuur in die liggaam van een van jou voorvaders.

Jamie wil sy gesin se omstandighede verbeter, maar met sy eie terugreis vind hy homself midde-in die Slag van Paardeberg, circa 1900, waar hy keer dat genl. Piet Cronjé oorgee aan die Kakies. Sodoende bewerkstellig hy dat die Boere die hele oorlog wen. Sommer net só. One time.

Maar dit mors met Jamie se persoonlike tydslyn wanneer hy terugkom in die hede.

Terug in 2011 vind hy ’n utopie, waar almal Afrikaans praat, ’n wilde nimfomaan hom heeltyd wil “spyker” en die meisie van sy drome skielik binne sy bereik is.

Natuurlik besef hy dis alles baie verkeerd, want…

Friday, 8 April 2011

Kernkrag



Drie invloedryke omgewingsaktiviste loop oor na kernkrag.
Die drama by die Fukushima Nommer 1 kernkragsentrale het nou al van die voorblaaie van koerante verdwyn, maar die gevaar is lank nie verby nie. Werkers spook steeds dag in en dag uit om die reaktors onder beheer te bring. Hulle taak word bemoeilik deur hoogs radioaktiewe water wat rondom die sentrale opgedam het na pogings om die reaktors af te koel met seewater. Daar is nog nie oplossings vir al die probleme nie. Fukushima is die tweede grootste kernramp in die geskiedenis van hierdie kontroversiële kragbron.
Dit lyk dus onwaarskynlik dat drie gerespekteerde omgewingsaktiviste tot die gevolgtrekking sou kom dat Fukushima nie net vir hulle oortuig van die veiligheid van kernkrag nie, maar dat kernkrag moontlik die enigste praktiese oplossing is vir aardverwarming.