Saturday, 11 July 2009

Urumqi geweld en China se etniese probleme

By 'n speelgoedfabriek in die suide van China loop 'n vroulike werker 'n donker kamer binne. Sy gewaar skielik twee mans. Hulle is Uyghurs. Mens kannie Uyghurs vertrou nie. Hulle lyk anders, praat 'n ander taal, eet ander kos. Baie van hulle is diewe en molesteerders en terroriste. Sy skrik haar lam en gee 'n gil. Maar die mans doen niks. Sy voel 'n bietjie skaam as sy uithardloop. 'n Paar van haar kolegas kom nader om te kyk wat gebeur het. Sy’s miskien 'n bietjie stadig om te verduidelik, miskien 'n bietjie verleë om die waarheid te erken. Voor sy tot verhaal kom sien die mans ook die Uyghurs, wat self kom kyk het wat aangaan.
Een vrou, twee Uyghur mans, en jare van wantroue: die Chinese mans sit als bymekaar en kom tot die verkeerde gevolgtrekking. 'n Geveg breek uit. Die geweld kring uit. Ander Uyghur trekarbeiders hoor daarvan en kom help. Nog Chinese werkers word ingeroep. Die strate van Shaoguan word skielik 'n bendegeveg. En met die spoed van geweld in China is dit ook skielik verby. Twee Uyghurs is dood, en beskuldigings begin oor en weer vlieg. Die Uyghurs glo die regering wil die Han-Chinese beskerm, die Han-Chinese glo die regering wil die Uyghurs beskerm in die naam van “harmonie”.
'n Paar dae later kom die vrou se storie eers uit: niks het gebeur nie, sê sy, maar baie glo haar nie. Dit klink te veel soos die regering wat 'n storie opmaak om konflik te vermy.
Shaoguan is in Guangdong Provinsie (beter bekend as Kanton in die Weste), die hiper-industriële deel van China net noord van Hong Kong, waar trekarbeiders amper meer is as die plaaslike bevolking. Of die vrou se storie waar is of nie, dit maak sin vir die Chinese regering om etniese konflik daar te probeer stilhou. Trekarbeiders regoor die land het in die afgelope dekade 'n slegte reputasie begin kry as diewe, verkragters, leeglêers en 'n bedreiging vir President Hu Jintao se “harmonieuse samelewing”. En Uyghurs het die slegste reputasie van almal.
Moskee in Urumqi
Eenduisend agthonderd kilometer van Guangdong, in die Wilde Weste van China lê die kulturele hart van die Uyghur nasie, die “Outonome” provinsie van Xinjiang. Daar is verskillende interpretasies van hulle geskiedenis: die Chinese regering hou vol hulle het in die 8ste eeu na Christus die area ingestroom van die Midde Ooste, Kazakhstan en die Turkiese gebiede af. Argeologiese bewyse dui egter op 'n baie vroër oorsprong. Menslike oorskot van vier duisend jaar gelede toon kaukasiese [Caucasoid] eienskappe soos blonde hare en ligte oë, wat beslis nie met Han Chinese vereenselwig word nie. As jy wonder, soos ek, hoe argeoloë oogkleur kan bepaal, dit werk so: regoor die woesteinagtige binneland van Xinjiang is verskeie mummies gevind wat seremonieel begrawe is. In hulle oogkaste is daar gekleurde klippe geplaas, en die meeste hiervan was blou, maar soms groen of ligbruin.
Met die koms van Genghis Khan is die hele area ook opgeneem, nes aangrensende Tibet, in die Mongoolse Ryk. Die Mongoolse oorheersing het natuurlik met Koeblai Khan verander in die Yuan Dinastie, wat deur Chinese geskiedenis geabsorbeer is. Meeste Chinese sien daardie tydperk nie as 'n koloniale tydperk van Mongolië nie, maar eerder as dat China vir Mongolië oorgeneem het.
Nietemin, na die die val van die Yuan, en met die opkoms van NOG 'n koloniale heerskappy oor China deur die Manchus, is Xinjiang as 'n provinsie uitgeroep. Ander sal sê “geannekseer”. Xinjiang beteken “Nuwe Land” of “Nuwe Heerskappy”.
Die Uyghurs [uitgespeek in Engels: “Weeger”] is deel van die Turkiese nasies. Hulle is hoofsaaklik Moslem en praat 'n taal nou verwant aan Turks en Uzbek. Hulle gebruik die Arabiese skryfstelsel, nie die Chinese karakters van die res van China nie. Xinjiang is ook die enigste deel van die hele China wat 'n onoffisiële tydsone het omdat hulle so ver wes lê.
Meeste Uyghurs lyk op die oog af soos Midde-Oostelinge. In my tyd in China kon ek gereeld Han Chinese oortuig dat ek self 'n Uyghur is. 'n Besoek aan die hoofstad van die provinsie, Urumqi en die antieke [Silk Route] stad van Kashgar voel meer soos 'n toer deur ou Persië as soos enigiets in China. Die fliek The Kite Runner is trouens in Kashgar verfilm omdat dit die skrywer so sterk herinner het aan die Afghanistan van sy jeug.
Sondagmark in Kashgar
In 1946 het Han Chinese 6% van die bevolking van Urumqi beslaan. Vandag is hulle die meerderheid daar, met soveel as 70%. Die Uyghurs is egter nog steeds die meerderheid in die ander stede van Xinjiang, veral in Kashgar. Soos die ander etniese minderhede van China is die Uyghurs nie onderhewig aan die “een kind beleid” nie. Dis egter 'n gemengde seëning, aangesien opvoeding so duur is. Han Chinese word gedwing om hulle uitgawes te beperk tot een kind en die minderhede bly in relatiewe armoede omdat hulle meer kinders versorg.
Op Sondag 5 Julie, in Urumqi, het ongeveer 300 Uyghurs 'n protesoptog begin vanaf die Groot Bazaar, 'n volgepakte, kleurryke winkelsentrum vol persiese tapyte en arabiese kurios. Die mense was ontevrede met die regering se behandeling van die straatgeveg in Shaoguan. Niemand weet hoe hierdie optog, wat deur 'n paar ooggetuies as “vreedsaam” beskryf is, skielik oorgegaan het in 'n volskaalse “pogrom” teen Han Chinese nie. Maar die elemente was daar: frustrasie met hulle status in hulle eie “land”, frustrasie met Han immigrasie, wantroue teenoor die regering, woede oor die beperkings op hulle geloof, en natuurlik armoede en ongeskooldheid.
Binne 'n uur het die optog gegroei na meer as 'n duisend mense, gewapen met messe, stokke en petrolbomme. Hulle het die polisie met klippe begin bestook, en die strate deur gejag op soek na Chinese mense en besighede. Hulle het op mense geskree in Uyghur en as hulle nie kon antwoord in hulle taal nie is hulle aangeval. Teen middernag was die strate vol dooies en honderde busse en karre was aan die brand.
Hierdie was geen fyn beplande politieke optog nie: dit was pure rassehaat, en die Han Chinese is op wreedaardige maniere doodgemaak.
Met Chinese TV-skerms vol prente van dooie en beseerde Han mense, het die Xinjiang Chinese begin praat van wraak. Dinsdag, met die strate vol weermaglede en polisiemanne, het duisende Han die strate ingevaar met stokke en planke op soek na Uyghurs. Hier blyk die Chinese regering se grootste sukses: 'n stuk briljante polisiëring. Die skares is aan alle kante omring deur die weermag, maar is versigtig toegelaat om 'n paar straatblokke op 'n slag in sirkels te marsjeer om al hulle woede en energie uit te werk. Die weermag het elke keer net voor 'n konfrontasie sou uitbreek effens teruggetrek en die skare hulle gang laat gaan, maar heeltyd afgesonder van die objek van hulle woede. Selfs gesoute Westerse joernaliste was vol lof vir die proffesionele en gedissiplineerde optreede van die Chinese weermag. Teen die middag is die vrede herstel.
Met die eerste geweld van Sondagaand was die regering se dodetal 156, met duisende beseer. Dinsdag se Han teenaanval het tot geen dood gelei nie. Die Chinese regering raak vinnig beter met hulle taktiek.
In kontras met die onluste in Tibet laasjaar, het hulle ook hulle media verhoudinge opgeskerp. Nasionale TV het onmiddelik toegang gekry om redelik openlik verslag te lewer. En oorsese joernaliste is teen Dinsdag al ingevlieg in groepe en toegelaat om binne redelike perke hulle gang te gaan. Dit wys op 'n regering wat uitgeslape raak teenoor die moderne wêreld se informasie-kanale. Hulle is in hierdie geval ook vol selfvertroue dat die feite vir hulself sal spreek: volgens hulle is dit duidelik dat daar 'n wreedaardige, kriminele aanval was deur Uyghurs op Han Chinese.
Hierin lê hulle ondergang. Dis klaarblyklik 'n oorlogverklaring op 'n deel van hulle bevolking. In die Chinese media is daar geen herkenning vir die Uyghurs se probleme nie. Die feit dat hulle in opstand kom word op 'n kolonialistiese manier gesien as blote ondankbaarheid. “Ons doen dan soveel vir hulle. Ons het alles hier gebou,” kla een Chinese inwoner van Xinjiang. In die openbare mitologie is daar geen plek vir outentieke ongelukkigheid van die Uyghurs af nie, net soos Tibet se strewe ook nie aanvaar word nie. China het baie goed geraak met spin: hulle verstaan die krag van die Internet, veral na die impak van Twitter op die Iran-onluste. Sulke dienste is op die oomblik nog geblok regoor China. Hulle het goed geleer uit die “kleur” rewolusies van oos Europa. Hulle verstaan hoe om hulle etniese konflik onder die tapyt in te vee.
Maar soos Tibet en Xinjiang wys, hulle het geen idee hoe om die onderliggende probleme aan te spreek nie.
Nou kan ons uitsien na 'n bekgeveg tussen China en die Uyghurs, veral die uitgewekene leier van die World Uyghur Congress, Rebiya Kadeer, wat die spanning tussen China en die Dalai Lama soos 'n kinderkrans lessie gaan laat lyk. Betrek hierby die ou aantygings van partydigheid deur die Westerse Media en inmenging deur die CIA, en jy het die resep vir nog 'n paar jaar van ongemaklikheid. Nou is daar nog 'n paar mense wat ons nie mag nooi Suid-Afrika toe nie – nie as ons wil aanhou handel dryf met die grootste ekonomie op aarde nie.
(Artikel gespike uit Rapport)