Thursday 23 August 2012

Resensie: Kruitvat deur Henning Janse van Vuuren

tl;dr: Baie lekker boek wat uitstaan bo enige spanningsverhale agv. sy uitstekende karaktergedrewe interaksie.

Dis moeilik om ’n realistiese boek in Afrikaans te skryf. Ons meng ons tale en kulture so baie dat dit fyn handwerk verg om niemand aanstoot te gee nie; om polities bo verdenking te bly; om die taal van gewone mense, maar ook suiwer of vernuwende Afrikaans te gebruik.

En hierdie oorwegings is maar net ’n paar van die duisende ander wat mense maklik van jou storie kan vervreem en daardie allerbelangrike suspension of disbelief ’n doodskoot in die agterkop gee.

Kruitvat deur Henning Janse van Vuuren is ’n triomf. Dis ’n karaktergedrewe heuningpot van intrige en spanning wat die ondenkbare regkry: Dit spin ’n storie in die hier en nou wat jou laat vergeet hy’s Afrikaans; wat enduit boei en oortuig met sy taalgebruik en gebeure; wat jou hardop laat lag en jou laat seker maak die voordeur is dig gesluit – sonder om, en dis nog een van die slaggate in Afrikaanse prosa, jou soos ’n 12-jarige te behandel.