Thursday 5 February 2015

Resensie van Die vierde stem deur Francois Bloemhof

Resensie van Die vierde stem deur Francois Bloemhof

Volle ontboeseming: Ek lees nie baie Afrikaanse boeke nie. In die afgelope jare het ek net boeke gelees wat aan my gegee is deur welmenende bladredakteurs om te resenseer (hi, Jo!).
   Dit verander die ervaring. In my geval dwing dit my om hondslegte boeke klaar te lees – boeke wat ek andersins in die asdrom sou gooi.
   So, ek is ’n maagd wanneer dit kom by hierdie genre – Afrikaanse spanningsverhale. En ek het gedink ek weet wat om te verwag: clichés, studentikose filosofiese mymeringe, troopsoet karakters (ek hoop jy sien wat ek daar gedoen het: nié “stroop” nie), stereotipes en baie selfbewuste seks.
   Groot was my verbasing toe ek vind dis presies wat ek kry. Met groot bedoel ek klein.
   Op die eerste blaaie van Die vierde stem (partykeer waardeer ek ons Afrikaanse gewoonte om titels só sonder hoofletters te skryf) word groot gewag gemaak deur die helpmekaarspan van ander Afrikaanse skrywers van Francois Bloemhof se vermoë om te boei en te ril. Siniese lofbetuiginge, in my opinie.
   Wat die storie betref: ’n Neurotiese vrou met ’n geheime bywoner, ’n sielkundige wat kan hack (“kuberkraker” sê die boek, want sy gekose mark sal ril van lekkerkry by die aanhoor van hierdie Orania-woord), en ’n skrywer wat Herman Lategan genoop het om die woord “kuisheidsgordels” in sy Rapport-resensie te laat gebruik... En een idee: ’n variasie op die “vierde muur” van die uitvoerende kunste.
   Baie slim, sê hy sarkasties.
   Hierdie massamarkstorie doen uiteindelik voor as ’n potloodskets van ’n idee, met elke lyn net getrek om te beur tot by die eindstreep. Maar in die blaaie waardeur die leser moet werk, is daar ’n algehele gebrek aan vindingrykheid. Die taalgebruik is keurig plat, koerantstyl, skoolstyl. Niks humor en woordspel nie; geen betrekking van die sintuie nie; jy sien niks, jy hoor niks, dis net... stemme. Liggaamlose stemme in ’n bewussynstroom wat eenvoudig vir jou vertel wat gebeur. Jy sien niemand se angs nie, iemand sê maar net hulle is beangs en jy moet hulle woord vat. My voorskrif is ’n dosis Cormac McCarthy, dan kom sien jy my weer môreoggend. (Clichés is eerlik, volgens die boek.)
   Daar is niks vermaakliks aan hierdie boek nie. Dis net ’n skets van ’n idee wat uiteindelik tog ’n vindingryke skildery kon gewees het. Maar met geen normale karakters by wie ons kan aanklank vind nie, geen vermaaklike sinne nie, geen propperse beskrywings nie en die humor van ’n busongeluk is hierdie net ’n siniese poging om ’n baie spesifieke mark te ontgin – ouerige Afrikaanse tannies (hi, Ma!).