Saturday, 12 May 2012

Resensie: Poppekas deur Deborah Steinmair


tl;dr: Dis okay, maar nie regtig vir grootmense nie.

’n Slim, jong vrou, ’n geheimsinnige verdwyning, ’n duistere geheim (die beste soort!) en ’n kleinhuisie vol sushi...

Deborah Steinmair se Poppekas, ’n energieke en spannende boek, is wonderlik: ’n storie met gewone woorde wat styf gespan is, eerder as lang, slap woorde wat ’n gebrek aan spanning moet wegsteek. 

Wat jy ook al dink van daardie rampgebied bekend as The Da Vinci Code, dis meesterlik vir die aandaggebrekkige leser ontwerp en mooi visueel in kort hoofstukkies verpak vir Hollywood: kits-draaiboek. 

Met geen bedoeling van aanstoot nie: Poppekas is ook só aanmekaargesit. 

Saturday, 5 May 2012

Resensie: Clarence van Buuren: Die man agter die donkerbril deur Chris Marnewick

tl;dr: Selfs al het jy nog nooit van Clarence van Buuren gehoor nie, sal die boek jou aandag hou, opvoed in analitiese denke en jou verbeelding prikkel.


Onlangs lees ek ’n boek oor antieke Egipte. ’n Farao marsjeer noord na wat nou Sirië is om daar te gaan oorlog maak. Hy slaap oor in ’n klein dorpie aan die kus van Palestina.

Dié aand lê hy alleen in ’n kamer, sukkel om te slaap, kyk na die wind wat die boomtakke buite die venster rondwaai.

Ons weet hiervan, want hy het dit die volgende dag op ’n stuk papirus neergeskryf. 

Dit was 3 000 jaar gelede.

Thursday, 23 February 2012

This accident was no accident


Humphrey Mmemezi
tl;dr: Mmemezi says his blue light accident was "just like any other". It wasn't: It was a blue light accident. How much more Pythonesque can you be, without actually being John Cleese?

Here is what Gauteng MEC for Housing Humphrey Mmemezi, told Beeld today about the accident caused by his official vehicle that left teenager Thomas Ferreira with brain damage:
"People should not be ridiculous and politicise this accident, just because a blue-light vehicle was involved. This was an accident just like any other." (reported by IOL, 23 February 2012)

Tuesday, 21 February 2012

Hoe help mens vir Kristin Swarts?

Christina en Francois Swarts met Kristin.
tl;dr: Desperate ouers wil hul kind vir duur kankerbehandeling stuur by 'n verdagte dokter in Amerika. Dis dalk hulle laaste hoop. Watse raad gee mens hulle?


Die Omstandighede

Hoe ver sal jy gaan as jy jou kind se lewe wil red? Die ouers van Kristin Swarts, 'n driejarige van Atlantis in die Wes-Kaap wil Texas toe gaan, maar daarvoor het hulle groot geld nodig.

Rapport het laas Sondag van Kristin se stryd teen 'n soort breinstamkanker, genaamd ponsglioom, berig.

As agtergrondinformasie noem hulle bloot die feit dat die Swarts-gesin beplan om Kristin na 'n dr. Stanislaw Burzynski van Houston, Texas te stuur. Die feit dat ek weet daar is geen gevorderde kankerbehandeling wat nie hier in Suid-Afrika aangebied kan word nie het dadelik 'n rooi lig by my laat afgaan.

'n Enkele soektog op Google was genoeg om my tientalle skakels te gee wat toon dat hierdie dr. Stanislaw Burzynski nie heeltemal die wonderwerker is wat a.) die Swarts'e dink hy is nie en b.) hy voorgee hy is nie.

Resensie: So lig soos klip deur Jacques Pretorius


tl;dr: Hoekom kan Afrikaanse skrywers nie net stories vertel nie? Back to basics vir julle almal.

Vroeg in So lig soos klip sê die verteller: “Daar is vir hulle gelees en gebid, en die res van die dag is hulle opgefok en uitgekak.”

Die boek handel oor ’n seun van Fietas (Pageview en Vrededorp) in Johannesburg wat deur sy armoede en sy ouers afgeknou word en dan nog deur God, die staat en die polisie in ’n loop gelaai word om te dien as kanonvoer teen die swart, rooi en veralgemeende totale aanslae. 

As jy wit en oor 30 is, is dit die storie van jou lewe. (They fuck you up, your mum and dad, sê Philip Larkin; hy bly relevant regdeur die boek. ) 

Die kind, wat naamloos bly, is ten gronde ’n goeie mens (gebore in onskuld, ens.), maar die skuldgevoelens van godsdiens en die atmosfeer van militarisme, waar die doel altyd die middele heilig, maak van hom ’n emosionele slagveld. 

Friday, 17 February 2012

Omstander-effek en die dood van Wang Yue

Sedert 18 verbygangers onlangs versuim het om ’n Chinese meisie te help nadat sy omgery is, word oor Chinese waardes en moraliteit besin. Het die nuwe empire empatie? vra kritici. Oppas, ook die Weste ly aan hierdie sindroom... 

’n Twee jarige kleuter drentel in die straat. ’n Aflewerings wa, sy kopligte uitgedoof, ry op haar af. Die wa stamp haar en ry met sy voor wiel bo oor haar. Die bestuurder stop, aarsel. Dan ry hy ook met sy agter wiel oor die kind.


Die eerste man wat verby stap, móét die ongeluk sien gebeur het – hy was net meters agter die motor. Die tweede man draai met sy fiets uit om die meisie te mis. ’n Minuut ná die ongeluk ry ’n tweede voertuig, ook sonder kopligte, bo-oor haar voet. ’n Ma en dogter stap hand aan hand verby en kyk na die kind, maar stop nie. Iemand op ’n bromponie kom tot stilstand, gee een kyk en ry weg.

Resensie: The Neighborhood Project deur David Sloan Wilson


Die teorie van evolusie is al gekritiseer dat dit nie gebruik kan word om voorspellings te maak nie.

Dis natuurlik bog: Darwin self het al daarmee voorspellings gemaak, soos oor watter fossiele in watter soort rotse gevind behoort te word.

Maar mense vind sulke voorspellings onbevredigend; dit sê niks oor die toekoms nie. Evolusie gaan wonderlik onvoorspelbaar te werk wanneer dit – as’t ware – gelos word om in vrede te funksioneer.

Nou is daar ’n nuwe benadering tot evolusie waarmee gepoog word om hierdie wetenskap in te span om van ons wêreld, en dié van die toekoms, ’n beter plek te maak.

David Sloan Wilson, professor in biologie en antropologie, skryf The Neighborhood Project met die energie en geesdrif van ’n wedergebore Christen (verskoon die ironie): In sy navorsing het hy ’n “gloeilamp-oomblik” beleef toe hy besef evolusie kan oorspoel na ons daaglikse lewe.

Resensie: The Fat Years deur Chan Koonchung


Chan Koonchung is in Shanghai gebore, en het in Hong Kong en Taiwan grootgeword, maar woon tans in Beijing. Hy het al tydskrifte, TV-kanale en internet firmas gestig en talle boeke en essays geskryf.

In die 1990’s het hy Hong Kong permanent verruil vir Beijing om nader aan die hart van die opwinding van die Chinese ontwaking te wees.

Sy boek The Fat Years het met sy publikasie in Hong Kong ’n stroom belangstelling onder intellektuele en jong afvalliges veroorsaak. Die boek versprei goed op die vasteland, al word dit nie daar uitgegee nie.

The Fat Years is spekulatiewe fiksie wat slegs twee jaar die toekoms in afspeel.

In 2013 kondig die Chinese regering amptelik die aanvang van die “Goue Era van Chinese Meesterskap” aan. Die wêreld beleef ’n ekonomiese krisis. Markte in die Weste is in chaos, maar China ontkom wonderbaarlik aan die apokaliptiese insinking.

Resensie: Die kamferkis deur Sjane van Aswegen


Die kamferkis deur Sjane van Aswegen. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R130.
Kamferhout is bitter, en dit hou die motte weg. Dis hoekom hulle in die ou dae trousseau-kissies daarvan gemaak het.

Maar pasop wat jy daarin sit: Aan die einde van jou lewe het jy dalk ’n vars klomp bitterheid.

Sjane van Aswegen skryf in Die kamferkis ’n kort, op die man af verhaal oor bitterheid, berou en oudword.

Ons ontmoet die korrelkop tannie Mien de Jager in ’n ouetehuis waar sy hardkoppig skop teen haar liggaamlike aftakeling en die neerhalende manier waarop jong mense haar behandel. Haar verhaal ontvou uit haar herinneringe, wat sy sorgvuldig wegbêre in haar oorgeërfde kamferhoutkissie.

Eens was sy ’n wonderlike jong meisie, tot barstens toe vol liefde en talent. Toe ontmoet sy ’n jong man op ’n familievakansie. Die liefde blom.

Wednesday, 21 September 2011

Resensie: The Unexploded Boer deur Erich Rautenbach


Verbeel jou almal in die wêreld skryf ’n outobiografie. Nie almal van daardie boeke sal interessant wees om te lees nie. Hierdie boek is ongelukkig een van hulle.

Erich Rautenbach vertel in The Unexploded Boer van sy komplekse jeug in die 1970’s in die rock ’n’ roll- en dwelmkultuur van Kaapstad en Johannesburg.

Hy skets ’n dissonante tyd: Apartheid is op sy hoogtepunt en fisieke onderdrukking vier hoogty, maar dit is ook die tyd van vrede, liefde, groovy tye, soel somernagte by rock-konserte… Dié dualiteit verskerp sy vervreemding: as ’n kind uit ’n disfunksionele familie, slagoffer van ’n pedofiel, tussenweefsel tussen Afrikaner en Engelsman, vaagweg bewus van die land se vergrype en onreg, maar stomgeslaan deur die totaliteit van die lewe.

Dis die storie soos dit aan ’n spookskrywer vertel sou word, vóór die spookskrywer die geheel saamsnoer om ’n spannende narratief, met bykomstighede soos karakters en plekke, in te sluit.