Saturday 12 May 2012

Resensie: Poppekas deur Deborah Steinmair


tl;dr: Dis okay, maar nie regtig vir grootmense nie.

’n Slim, jong vrou, ’n geheimsinnige verdwyning, ’n duistere geheim (die beste soort!) en ’n kleinhuisie vol sushi...

Deborah Steinmair se Poppekas, ’n energieke en spannende boek, is wonderlik: ’n storie met gewone woorde wat styf gespan is, eerder as lang, slap woorde wat ’n gebrek aan spanning moet wegsteek. 

Wat jy ook al dink van daardie rampgebied bekend as The Da Vinci Code, dis meesterlik vir die aandaggebrekkige leser ontwerp en mooi visueel in kort hoofstukkies verpak vir Hollywood: kits-draaiboek. 

Met geen bedoeling van aanstoot nie: Poppekas is ook só aanmekaargesit. 

Saturday 5 May 2012

Resensie: Clarence van Buuren: Die man agter die donkerbril deur Chris Marnewick

tl;dr: Selfs al het jy nog nooit van Clarence van Buuren gehoor nie, sal die boek jou aandag hou, opvoed in analitiese denke en jou verbeelding prikkel.


Onlangs lees ek ’n boek oor antieke Egipte. ’n Farao marsjeer noord na wat nou Sirië is om daar te gaan oorlog maak. Hy slaap oor in ’n klein dorpie aan die kus van Palestina.

Dié aand lê hy alleen in ’n kamer, sukkel om te slaap, kyk na die wind wat die boomtakke buite die venster rondwaai.

Ons weet hiervan, want hy het dit die volgende dag op ’n stuk papirus neergeskryf. 

Dit was 3 000 jaar gelede.