Sunday 29 March 2009

Dalai Lama & China & ons onkunde

Daar is twee prentjies van Tibet en die Dalai Lama. Die een is die simpatieke Westerse mite dat Tibet ‘n soort edele Shangri-la is en dat hulle spirituele leier ‘n vreedsame, saggeaarde – dog nederige – figuur is, van die gestalte van Moeder Theresa, Ghandi of Nelson Mandela.

Die ander siening – vir ten minste 50 jaar sterk onderhou deur die grootste nasionale propaganda veldtog in die geskiedenis – is dat die ou monnik ‘n duiwel is met die hart van ‘n monster, en dat sy land voor 1949, die jaar toe China hulle bevry het, ‘n “versteende” [fossilized... gefossileerde klink lomp] beskawing was, waar slawerny en brutaliteit 95% van inwoners in ‘n hel op aarde gehou het, verdoem om oorheers te word deur die laaste feodale stelsel in die wêreld.

Gister was ‘n vakansiedag in Tibet. [Saterdag, 28 Maart] In ‘n poging om internasionale persepsies te verander, en om vir ‘n tuisgehoor verder te oortuig van hulle weergawe van die geskiedenis, het die Chinese regering 28 Maart tot Bevrydingsdag van Slawerny [Serf Emancipation Day] uitgeroep.

Regoor China was daar hierdie week in amper elke belangrike koerant ‘n identiese artikel: “Koester die vrug van demokratiese hervorming: die viering van die 50ste herdenking van die bevryding van miljoene Tibetse slawe.”

Dié opskrif was te sien in die People’s Daily, die Guangming Daily, die Economic Daily, Xinhua Online, en ten minste nog dertien ander, insluitende die webtuiste van die sentrale Chinese uitsaaikorporasie, CCTV. Die Chinese regering is nie bang om groot te gaan met hulle veldtogte nie.

So beskryf Xinhua, die offisiële nuusagentskap, die bevryding van Tibet:

“In die lente van 1959 breek ‘n golf van demokratiese hervorming oor die antieke area van Tibet en word ‘n wekroep vir die miljoene slawe. Oornag verander hulle van ‘pratende diere’ in waardige burgers; skielik is daar industrie, ontwikkeling en waardigheid. Hierdie glorieryke demokratiese hervormings lei tot die emansipasie van miljoene slawe en bring ‘n einde aan die laaste slawerny-samelewing in die wêreld.”

Vir die gewone Chinese man en vrou [the average Zhou] is daar geen vraag oor die status van Tibet nie. Die antwoord wat jy kry is eenvoudig dat Tibet nog altyd deel was van China, en altyd sal bly.

Tibet is in 1244 deur die Mongole verower is. Kort daarna het dit deel geword van die Yuan-dinastie van Kublai Khan, wat China verenig het onder Mongoolse heerskappy. Sedertdien kan daar min twyfel wees dat Tibet slegs nominale outonomie gehad het, en wat buitelandse betrekkings betref het was dit deel van China.

Na die val van die Qing dinastie, in 1911, het China ‘n stormagtige periode beleef waarin ‘n groot aantal streke nie onder direkte beheer van enige sentrale regering gestaan het nie, insluitend Tibet. Die Tibetse adel het in dié periode baie tyd gehad om ‘n kragdadige onafhanklikheid te proklameer, maar het dit nie gedoen nie.

Na die chaos van die “Oorlog van verset teen Japanese Agressie” (soos China die Tweede Wêreldoorlog noem), en die burgeroorlog waarin Mao Zedong se Kommuniste geseëvier het, het iemand skielik onthou van Tibet. Die Chinese leër is in 1950 ingestuur om Beijing se heerskappy te bevestig.

In 1956 breek daar ‘n rebellie uit, onder leiding van adelikes and kloosters [monastaries], aangehelp deur die Amerikaanse CIA. Die opstand is brutaal onderdruk en teen 1959 vlug die 14de Dalai Lama en ander regeringsamptenare na Indië, waar hulle tot vandag toe in Dharamsala ‘n balingskapsregering bedryf.

China sien die Tibet-kwessie as een van soewereiniteit – die weste sien dit as ‘n menseregte-kwessie. Aan albei kante is daar fondamentele misverstande. China ontleen hom nie aan vereenvoudigings nie. Ongelukkig is die graad van ons onkunde oor dié massiewe land so groot dat meeste opinies gebasseer is op geykte sienings uit populêre kultuur wat dateer uit ‘n vorige era. Om China effektief te hanteer, moet dit verstaan word in terme van sy eie kompleksiteite en outentieke aspirasies. Soewereiniteit is vir China allesoorheersend. Oud-leier Deng Xiaoping het gesê: “Soewereiniteit is nie oop vir onderhandeling [met enige ander land] nie.” Tibet moet in hierdie konteks benader word.

Die China van vandag is ligjare weg van die chaotiese gemors van ‘n honderd jaar gelede. Nog nooit tevore in die geskiedenis is soveel mense uit uiterste armoede gebring in so ‘n kort tyd as wat die afgelope dertig jaar in China vermag is nie. En al bly die Tiananmenplein insident ‘n verbode onderwerp, is China ook nie meer naastenby dieselfde land as in 1989 nie.

Maar ‘n paar dinge bly dieselfde: Tibet is een van hulle, die eilandstaat van Taiwan is die ander. Sedert 1949, toe Chiang Kai-Shek en sy Nasionaliste die eiland beset het na hulle nederlaag in die burgeroorlog, beskou die Kommuniste die eiland as behorende aan China. Tibet en Taiwan bly onderwerpe wat gewone Chinese onwrikbaar verenig. In China bestaan daar selfs op die uiterste periferie geen stemme wat onafhanklikheid vir enige van die twee streke ondersteun nie. “Taiwan is, was en sal altyd deel van China bly” lui die refrein.

Die feite is grys, maar twyfel bestaan nie oor die verweefdheid van Taiwan en China se verlede en toekoms nie. Redusering tot ons siening van demokrasie en geregtigheid ontken ‘n ontsettende kompleksiteit wat net met moeite vertaal kan word na ons idioom.

Selfs die “massamoord” van Tiananmenplein in 1989 gly deur ons vingers. ‘n Geloofwaardige interpretasie is dat die studente nie in opstand was ten gunste van demokrasie nie, maar eintlik vir ‘n terugkeer na ‘n meer fondamentele vorm van Mao Zedong se denke. ‘n Ander interpretasie wil dit hê dat die enigste fout begaan deur die destydse leiers is om so lank te wag voordat hulle ‘n aansienlike bedreiging tot hulle land se stabiliteit stop gesit het. Die implikasie is dat die Chinese, uit respek vir menselewens eintlik dinge vererger het deur hulle simpatie vir die studente. Hoe dit ookal sy, gemaklike verduidelikings bestaan nie.

Ook nie vir Tibet nie. Feit is dat Tibet al vir eeue verstrengel is in die geskiedenis van China, en waarskynlik volgens enige internasionale norme wettiglik aan China behoort. Mense het swaargekry in Tibet voor 1950, en hulle lewens is ongetwyfeld nou materialisties beter. Ontwikkeling in Tibet is die stadigste in China, maar met ‘n nasionale gemiddeld van 8% groei per jaar maak dit Tibet steeds ‘n bietjie voor Suid-Afrika. Die Chinese grondwet beskerm, op papier, die regte van minderhede en godsdienste, en die foto’s van gelukkige Tibetse kinders en monnike wat China die afgelope jaar in hulle media versprei kan nie almal vals wees nie.

Waarvoor veg die Dalai Lama dan? In sy woorde “werklike outonomie”. Hy het in die tagtigs al afgesien van die idee om onafhanklikheid te verkry vir Tibet. Jonger, meer aggressiewe elemente in die Tibetse bannelinggemeenskap sien dit as ‘n siniese realpolitik. Sy “outonomie” sal een wees waar ‘n Tibetse regering interne- en kulturele sake administreer, maar onderdanig sal bly aan China oor nasionale- en buitelande sake. Dit lyk op papier soos die status quo wat sedert die Yuan-dinastie gehandhaaf is.

‘n Probleem vir China lê egter in die area waaroor die Dalai Lama outonomie wil hê: dis bykans twee maal so groot soos die huidige provinsie van Tibet, en sluit ‘n groot deel noord van Tibet in waar daar aansienlike Tibetse kulturele aktiwiteit is. China argumenteer dat geen Dalai Lama in die geskiedenis nog oor so ‘n groot area geheers het nie.

Verder sien Beijing in hierdie aanspraak ‘n poging om terug te keer na die slawerny-samelewing van ou Tibet, toe die Dalai Lama ‘n god-koning was.

Beijing kan nooit ingee nie, redeneer Dr. Jian Junbo van die Fudan Univesiteit in Shanghai. As die Dalai Lama kry wat hy wil hê, sal ander etniese minderhede – China is baie trots op hulle 56 minderhede – soos die Uyghurs in Xinjiang, ook aangemoedig voel om dieselfde te vereis. Die gevolge sal katastrofies wees vir die sentrale regering. Die boodskap aan Taiwan van so ‘n ingewing aan Tibet sal ook soortgelyk wees, vir Beijing, as om hulle aanspraak op die eiland te laat vaar.

Maar dis in die hantering van buitelandse persepsie dat Beijing faal. Hulle vereiste aan Tibet en Taiwan: laat vaar julle aansprake op onafhanklikheid voor ons onderhandel. Die reaksie is natuurlik een van frustrasie: Hoe kan ons ingee nog voordat ons onderhandel? Dis asof PW Botha vir die ANC sê: vergeet van hierdie idee van stemreg, en dan, net dan, kan ons praat oor stemreg vir julle. Dit werk egter goed vir China, want hulle kan intern aankondig dat die deur vir onderhandeling en rasionele gesprek altyd oop is, maar dat die ander kant net nooit aan die vereistes wil voldoen nie. Vir die binnelandse gehoor werk hierdie tegniek wonderlik. Die Dalai Lama is public enemy number one: ‘n Adolf Hitler in wie se laakbaarheid geen twyfel bestaan nie.

Beijing se grootste bedreiging is die Internet. Hierdie week is berig dat video-webwerf Youtube heeltemal verban is in China. Voorheen is sekere videos individueel onbereikbaar gemaak, maar nou is die hele spul geblok in China. Die rede? Daar is nooit ‘n offisiële rede nie, maar dis maklik om te raai die video wat Chinese polisie wys wat Tibetse monnike wreedaardig slaan met knuppels ‘n aanspraakmaker is. En dit wys weer ‘n afwyking tussen redeneringsstrategieë: in die Weste is ons geneig om dadelik te vermoed daar’s iets wat die regering wil wegsteek. Chinese, aan die ander kant, is op die oog af bereid om die storie te sluk dat nasionale stabiliteit ten eerste gehandhaaf moet word. Ek sê "op die oog af" want in China is dit onmoontlik om meningspeilings te doen oor sekere onderwerpe. Daar is beslis afwykende sienings, maar geen plek om hulle raak te loop nie, behalwe in persoonlike gesprekke.

China het sedert kommunistiese beheer ‘n soortgelyke mite gebou as dié van Amerika se “melting pot”-droom. Die gewone Chinees sien hulle land as ‘n “harmonieuse” amalgamasie van hulle 56 minderheidsgroepe, en ‘n bedreiging vir hierdie wêreldsiening behels ‘n aanval op die kern van die Chinese identiteit.

Nes elders, inlsuitend hier met ons “reënboognasie” mite, het die Chinese ‘n paar diepliggende stories wat hulle oor hulself glo: kinders leer dat China nog nooit ‘n ander land aangeval het nie, ten spyte van die inval van Vietnam in 1976 en die aanval op Indië in 1962. Natuurlik word die Koreaanse Oorlog gesien as ‘n blatante poging van die VSA om China in te neem.

Vir Chinese was China nog altyd vreedsaam, en was hulle vir eeue die res van die wêreld se slaansak. Die Britse Opium-oorloë en die vernedering van die Bokser-rebellie en die besetting van Beijing is nog steeds oop wonde wat die mees liberale Chinees sy vuiste laat klem.

China voel, miskien tereg, dat die hele kwessie rondom Tibet uitgebuit word deur Westerse politici wat verskoning soek om China te beswadder. Die groeiende ekonomiese invloed van China tref baie as 'n bedreiging en 'n onderliggende "yellow peril" mentaliteit maak dit maklik vir die publiek en lui joernaliste om eensydige en vereenvoudigde berigte oor China te glo. Die uitdaging is om opnuut en sonder vooropgestelde idees met die werklikheid van China betrokke te raak. 

No comments:

Post a Comment