Drie invloedryke omgewingsaktiviste loop oor na kernkrag.
Die drama by die Fukushima Nommer 1 kernkragsentrale het nou al van die voorblaaie van koerante verdwyn, maar die gevaar is lank nie verby nie. Werkers spook steeds dag in en dag uit om die reaktors onder beheer te bring. Hulle taak word bemoeilik deur hoogs radioaktiewe water wat rondom die sentrale opgedam het na pogings om die reaktors af te koel met seewater. Daar is nog nie oplossings vir al die probleme nie. Fukushima is die tweede grootste kernramp in die geskiedenis van hierdie kontroversiële kragbron.
Dit lyk dus onwaarskynlik dat drie gerespekteerde omgewingsaktiviste tot die gevolgtrekking sou kom dat Fukushima nie net vir hulle oortuig van die veiligheid van kernkrag nie, maar dat kernkrag moontlik die enigste praktiese oplossing is vir aardverwarming.
George Monbiot is 'n klimaatsaktivis, skrywer van o.a. die boek Heat: how to stop the planet burning en weeklikse rubriekskrywer vir die Britse koerant The Guardian. Na jare van teenkanting tot kernkrag skryf hy op 21 Maart 'n artikel genaamd: "Why Fukushima made me stop worrying and love nuclear power".
Nog 'n skrywer en aktivis, Mark Lynas, sê sedert 2010 dat teenkanting tot kernkrag bydra tot die versnelling van aardverwarming. Hy is die skrywer van o.a. Six degrees: our future on a hotter planet. George Monbiot was tot onlangs sterk gekant teen Lynas se posisie. Nie meer nie.
Die derde bekeerde omgewingsaktivis is Chris Goodall, 'n besigheidsman wat polities aktief geword het in die groen beweging in die VK. Hy skryf in 2007 die boek How to live a low-carbon life en was in 2010 'n kandidaat vir die Green Party in die algemene verkiesing.
Wat is die gevare van kernkrag?
George Monbiot verduidelik hoekom hy sy deuntjie verander het:
"'n Slegte ou kragstasie met onvoldoende veiligheidsmaatreëls word getref deur 'n monster-aardbewing en 'n oorweldigende tsunami. Die elektrisiteitstoevoer is afgesny en die verkoelingstelsel is buite aksie. Die reaktors begin ontplof en smelt. Die ramp ontbloot die bekende ou storie van slegte ontwerp en kostebesparings. En tog, sover ons weet, het niemand nog 'n dodelike dosis van bestraling gekry nie."
Twee werkers het brandwonde opgedoen wat geen langdurige implikasies vir hulle gesondheid sal hê nie. 'n Paar ander het bestraling opgedoen maar geen tekens getoon van siekte nie.
Kernkrag is gevaarlik. Maar Monbiot, Lynas en Goodall wil hê mens moet kernkrag se gevare vergelyk met ander bronne van energie.
Een manier is om te vergelyk hoeveel mense dood gaan vir elke terrawatt elektrisiteit wat opgewek word. Dié data, saamgestel deur die Europese navorsingsgroep ExternE en die Wêreldgesondheidsorganisasie, wys dat kernkrag selfs veiliger is as wind- en sonkrag. (Sonkrag? Ja, mense val van die dak af as hulle sonpanele installeer.)
Dodetal per TW-uur
Steenkool 161
Olie 36
Natuurlike gas 4
Hidro-elektries 1.4
Sonkrag 0.44
Wind 0.15
Kernkrag 0.04
Bron: ExternE & WGO via Next Big Future
Vir elke persoon wat dood is as gevolg van kernkragopwekking, is 4000 mense dood in die opwekking van krag van steenkool, aangepas vir die hoeveelheid krag wat opgewek is.
Die bemarkingsguru Seth Godin het die volgende grafiek gemaak om die data voor te stel:
Bron: Seth Godin
In China is 2433 mense amptelik dood in ongelukke in steenkoolmyne in 2010. Dis ses mense per dag. In die VSA sterf 50 000 tot 100 000 mense jaarliks aan longkanker te wyte aan lugbesoedeling. Hierdie syfers sluit nie in die moontlike sterftes wat ons in die toekoms kan verwag van aardverwarming nie.
Vergelyk dit met die amptelike sterftesyfer na die wêreld se dodelikste kernramp: Chernobyl. Die Verenigde Nasies navorsingsgroep oor die gevolge van atoombestraling (UNSCEAR) verslag van 2008 skets 'n onverwagte prentjie.
Volgens hulle was daar 57 sterftes as 'n direkte gevolg van bestraling na die Chernobyl ongeluk. Verder was daar tot en met 2005 'n ekstra 6000 gevalle van skildklierkanker. Skildklierkanker reageer egter goed op behandeling en die 5-jaar oorlewingskans is 96%.
Daar is volgens UNSCEAR geen verhoging in die voorkoms van leukemie nie. Hulle gevolgtrekking: "Alhoewel dié individue wat onderwerp is aan hoë vlakke van bestraling 'n groter risiko dra van toekomstige gesondheidsprobleme, behoort die oorgrote meerderheid van die bevolking geen ernstige probleme as gevolg van bestraling te hê nie."
Die Verenigde Nasies verslag is nie die enigste navorsing oor die gevolge van Chernobyl nie. In 2007 verskyn 'n boek genaamd Chernobyl: Consequences of the Catastrophe for People and the Environment. Dis 'n samevatting van mediese rekords en artikels uit die geaffekteerde Oosbloklande wat vertaal is na Engels. Daarin word beweer dat soveel as 985 000 mense dood is as gevolg van Chernobyl.
Selfs die uitgewers van die boek, die New York Academy of Sciences, waarsku dat die artikels nie voldoen aan die vereistes van wetenkaplike geldigheid nie. Die bronne is amper onmoontlik om na te spoor en die metodologie word skerp gekritiseer. Die grootste fout van die boek is om aan te neem dat alle toenames in sterftes -- of dit met radioaktiwiteit verband hou of nie -- te wyte is aan die Chernobyl ongeluk.
Die gemeenskaplike veranderinge na die val van die Soviet Unie het sterftesyfers in al die ou Oosbloklande laat toeneem as gevolg van ingrypende leefstyl veranderings wat niks met bestraling te doen het nie.
Mark Lynas en Chris Goodall het onlangs 'n gesamentlike artikel geskryf getiteld "The dangers of nuclear power in light of Fukushima" waarin hulle krities kyk na die gevolge op menslike gesondheid na bestralingsinsidente in die geskiedenis.
Een van die beste bronne vir ons kennis oor wat bestraling aan mense doen is die twee atoombomme wat Hiroshima en Nagasaki in 1945 vernietig het. Daar bestaan menige studie wat 'n baie groot hoeveelheid mense oor baie jare gevolg het, en die uitwerking van die bestraling vergelyk met die gesondheid van ander groepe wat nie naby die bomme was nie.
Uit die studiegroep is 18% dood aan soliede kankers en 3% aan leukemie. In Brittanje vandag kan 25% van mense verwag om aan kanker dood te gaan.
Naas Chernobyl is die Three Mile Island ongeluk in Pennsylvania in 1979 die ander groot kernongeluk. 'n Hele paar studies is onderneem om Three Mile Island se gesondheidsgevolge na te speur. Die resultate van alle studies dui daarop dat daar eenvoudig geen negatiewe effek op gesondheid was nie.
Hoekom is mense so bang vir kernkrag?
Die vrees vir kernkrag gaan dieper as wetenskaplike risiko-analise. Kai Erikson, sosiologie professor by Yale Universiteit vra in 'n artikel, "Radiation's lingering dread", die vraag: "Hoekom maak kernkrag 'n hele nasie vreesbevange ... wanneer soveel meer mense doodgaan van karbestuur, sigarette rook, of vetterige kos eet?"
Sy gevolgtrekking: kernkrag speel nie volgens die reëls nie. Rampe het gewoonlik 'n storielyn: 'n begin, 'n middel en 'n einde. 'n Aardbewing laat van homself hoor, daar's 'n periode van chaos gevolg deur herstel, en uiteindelik is die gevaar verby en die lewe gaan aan.
Kerngevare kan egter ongesiens begin: lekkasies – soos by die Hanford kragsentrale in die VSA – kan maande duur voor dit deur owerhede erken word. Kernkrag is mensgemaak, anders as natuurrampe is iemand altyd te blameer en die ramp is dus voorkombaar. Bestraling veroorsaak nie sigbare skade nie – inteendeel, dit kontamineer en bevuil en penetreer menslike vlees.
Volgens Erikson is daar nog 'n faktor wat bydra tot die irrasionele vrees wat mense ervaar gedurende kernrampe: vir die slagoffers eindig dit nooit nie. Niemand kan ooit sê: nou is dit verby nie.
Sielkundige Paul Slovic se 1987 artikel "Perception of Risk" vergelyk eienskappe van risiko's soos mense dit ervaar, en vind dat die grootste gaping tussen werklike gevaar en mense se idee van gevaar plaasvind in die geval van kernkrag. Kernkrag is onsigbaar. Dit rig nie onmiddelik skade aan nie. Mense sien dit as onbeheerbaar, en mense twyfel in die wetenskap se kennis daaroor. Dit word gesien as iets wat toekomstige generasies kan benadeel en dis arbitrêr: niemand is bestand daarteen nie.
Hoe kan kernkrag aardverwarming bestry?
Die doelwit is om steenkool en olie so gou as moontlik te vervang met bronne van energie wat nie bydra tot aardverwarming nie. Kernkrag is nie die enigste tegnologie wat bestaan om daardie doel te bereik nie. Ander vorms van elektrisiteitsopwekking, soos hidro-elektriese skemas, wind- en sonkrag hou ook die moontlikheid om skoon en relatief goedkoop energie te verskaf.
Die debat onder klimaatsaktiviste draai egter oor die praktiese implikasies van elkeen van hierdie bronne. Kan ons gou genoeg oorslaan na so 'n koolstof-vrye ekonomie.
Teenstanders van kernkrag sê die koste daarvan, en die lang tyd wat nodig is om nuwe stasies te bou, maak kernkrag onprakties. Die sensitiwiteit rondom bestraling, en die hoë veiligheidsvereistes waaronder kernkrag onderwerp word, beteken dat die gemiddelde kragsentrale tien jaar neem om te bou. En vir kernkrag om beduidend oor te neem by koolstof sal honderde kernkragstasies gebou moet word.
Benewens die praktiese oorwegings, is daar ook 'n probleem wat skynbaar onoplosbaar is: kernafval. Volgens anti-kernkrag aktiviste is daar nog geen nasie ter wêreld wat voldoende voorsorg kan tref dat die afval, wat vir duisende jare gevaarlik sal bly, veilig geberg kan word nie.
'n Prominente Amerikaanse kerngragnavorser, Alvin Weinberg, bevraagteken of kernkrag aanpasbaar is met die demokrasie. Kernkrag verwag van ons om die bestuur van risiko te oorhandig aan kundiges met 'n beperkte aanspreeklikheid in verhouding tot die betrokke risiko.
In dié opsig stem die bekeerde aktiviste saam. George Monbiot het die volgende te sê oor die kernkragindustrie: "Ja, ek haat nog steeds die leunaars in die industrie. Ja, ek sou verkies dat die hele besigheid afgeskakel moet word, as daar minder skadelike alternatiewe is. Maar daar is geen ideale oplossings nie."
Die kernkragindustrie word verdink van kriminele leuns, en hulle rekord boesem nie vertroue in nie. Selfs by die Fukushima Daiichi kragstasie was daar in 2002 'n geval waar amptenare veiligheidsdokumente vervals het. Die Soviet-regering was baie traag om inligting bekend te maak oor Chernobyl in 1986. Daar is 'n verdoemende lys van kernkrag-ongelukke wat eers veel later aan die lig gekom het, juis as gevolg van die enorme sensitiwiteit oor die industrie.
Vir 'n kernkrag-rennaisance om plaas te vind, sal die hele industrie 'n beeldvernuwing moet kry.
Skakels:
Kernkrag as 'n oplossing:
'n Veiliger alternatief tot Uraan:
Anti-kernkrag:
Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
ReplyDeleteGod het jou lief. Lees jou Bybel.
Ek het nie 'n bybel nie.
ReplyDelete