Saturday, 3 September 2011

Resensie: Die verste uur deur Steve Hofmeyr


Die verste uur is ’n kortstorie oor ’n student, Jamie van der Merwe, wat in ’n ou professor se geskrifte oor die Franse komponis Jean-Philippe Rameau ’n manier vind om terug te reis in tyd.

Rameau wou op sy dag ’n soort theory of everything vir musiek skep, en in dié storie kry Van der Merwe per abuis die spesifieke akkoorde wat jou bewussyn terugstuur in die liggaam van een van jou voorvaders.

Jamie wil sy gesin se omstandighede verbeter, maar met sy eie terugreis vind hy homself midde-in die Slag van Paardeberg, circa 1900, waar hy keer dat genl. Piet Cronjé oorgee aan die Kakies. Sodoende bewerkstellig hy dat die Boere die hele oorlog wen. Sommer net só. One time.

Maar dit mors met Jamie se persoonlike tydslyn wanneer hy terugkom in die hede.

Terug in 2011 vind hy ’n utopie, waar almal Afrikaans praat, ’n wilde nimfomaan hom heeltyd wil “spyker” en die meisie van sy drome skielik binne sy bereik is.

Natuurlik besef hy dis alles baie verkeerd, want…



Wag, wát? As die plek dan so ’n wonderwêreld is, hoekom sal enige normale mens wil terugkom na ons eie wankelrige deurmekaarspul?

Dis roerend dat Jamie so onoortuigend besorg is oor die geskiedenis wat hy uitgevee het: Mandela, die ANC, Steve Biko, die nuwe Suid-Afrika… en daarmee saam die helfte van ons maatskaplike probleme, want die republiek wat in die plek van ons s’n ontstaan, bevat blykbaar nie swart mense as burgers nie. Maar Jamie móét terug.

Hofmeyr se eerstepersoonsvertelling lees baie maklik. Hy gebruik ’n vlot spreektaal, wat deurspek is met ongekursiveerde Engelse woorde. Ander Afrikaanse skrywers kan dit gerus in hul pype sit en rook: Hy gebruik die woordrangskikkings waaraan ons breine gewoond is en probeer nie alles oorskryf in die “rasegte Boers” wat ons in skryftaal vind nie. Die brein word nie skielik gepootjie deur onbekende taalsuiwerhede nie.

Die dialoog is vermaaklik – dit sê mos op die omslag Hofmeyr is ’n vermaaklikheidskunstenaar – en dit sou lekker wees om ’n hele, spannende narratief te lees waar hy hierdie trant kan volhou.

In die eerste helfte van die boek word elke bladsy egter tipografies verdeel in drie parallelle vertellings, waarvan party soms die pas moet markeer sodat die geheel gesinchroniseer kan bly. Heel bo praat Jamie. In die middel skryf die professor ’n brief aan sy vrou (sy “hoendertjie”). Heel onder op die blad is daar skynbaar ’n Wikipedia-artikel oor Rameau wat veronderstel is om as contrapunctus te dien, maar nie regtig veel tot die spanning bydra nie. Dit is baie post-something.

In die geheel kom die boek oor as ’n Daan Retief-storie. Selfs die huidige-tyd-wêreld word bewoon deur die soort tieners wat in die 1980’s in Pretoria gewoon het, waar naïwiteit meng met guitige dubbelsinnighede en, meer belangrik, waar 13-jariges alleen die bus kon haal Sterland toe op ’n Saterdag en niemand daaraan gedink het om jou te waarsku teen ou omies met lekkergoed nie.

Die alternatiewe werklikheid in die Boererepubliek lees ongelukkig nie regtig soos satire nie. Dit is eerder ’n selfbevlekkingsdroom wat Verwoerd, Vorster en ’n handvol Bothas kon hê.

Normale volwassenes sou die spekulatiewe moontlikhede wat die premis aanbied, kon uitput oor twee biere, maar net ’n volwassene met ’n agenda sou dit (saam met die chip) op sy skouers neem om ’n hele boek daaruit te komponeer.

Sy verwysings na populêre kultuur word haelgeweer-styl gedoen: Bill Nye the Science Guy, Star Trek, iPods, en die interwebs… Dis ’n bietjie asof hy skeptici wou omkoop met sy byderwetse aweregsheid – voordat hy hulle in sy Wit Wolf-fantasie insleep. En dan lewer sy satire niks op nie: Bloot ’n wêreld waar die Boere die oorlog gewen het, waar niemand in die republieke Engels praat nie en swart mense wonderlike Afrikaans besig wanneer hulle met hul paspoorte in die Boertopia kom werk…

Dit is die somtotaal van die denkoefening. Dit hou nie, met ander woorde, ’n ondersoekende spieël teenoor ons wêreld op om ons met nuwe oë na enigiets te laat kyk nie, behalwe miskien na Rameau, wie se wysies dalk ’n luister werd is.

Hofmeyr roep wel die nostalgie op, vir die grasperke van Pretoria-Oos, die BMX-resies by die Pioniersmuseum en daai dag elke maand wanneer Daan Retief se pakkie in die pos aangekom het.

Hofmeyr kán skryf en as hy ’n eerlike storie skryf oor ons eie wêreld, en die Boer se plek daarin, sal dit heel leesbaar kon wees. Maar dié boek is oneerlik, gestroop van spanning en karakterisering en die intrige is so subtiel soos ’n swart ysbeer. Dit hou nie eens kers vas by die Fritz Deelman-boeke nie.

Dis vermoeiend om te wag vir die karakter om te snap wat aangaan as die leser dit al tien bladsye terug sien kom het. Om dan deur die eksposisie te moet lees, is ’n wonderlike oplossing vir slaaploosheid.

Show, don’t tell.

Ek wou nog altyd agterop ’n boek aangehaal word, so hier is dit: Ruimteskip Celeste, die 1982-wetenskapfiksieboek deur Johann Bredell, is honderd keer beter as Hofmeyr se boek.

- Marius Visser, Rapport 17 Julie 2011

No comments:

Post a Comment