Saturday, 12 May 2012

Resensie: Poppekas deur Deborah Steinmair


tl;dr: Dis okay, maar nie regtig vir grootmense nie.

’n Slim, jong vrou, ’n geheimsinnige verdwyning, ’n duistere geheim (die beste soort!) en ’n kleinhuisie vol sushi...

Deborah Steinmair se Poppekas, ’n energieke en spannende boek, is wonderlik: ’n storie met gewone woorde wat styf gespan is, eerder as lang, slap woorde wat ’n gebrek aan spanning moet wegsteek. 

Wat jy ook al dink van daardie rampgebied bekend as The Da Vinci Code, dis meesterlik vir die aandaggebrekkige leser ontwerp en mooi visueel in kort hoofstukkies verpak vir Hollywood: kits-draaiboek. 

Met geen bedoeling van aanstoot nie: Poppekas is ook só aanmekaargesit. 
Louisa "Wiesa" Rabie (gespeel deur Yo-Landi Vi$$er gekruis met Liz Lemon van 30 Rock) is ’n taalredigeerder by ’n groot Kaapse Afrikaanse dagblad. (Ek tel terloops 4 tikfoute en 2 breekfoute in die boek.) 

Een dag verdwyn haar kollega Harm (gespeel deur Harrison Ford in Blade Runner), ’n stil, bedeesde ou, maar vol draadwerk. 

Wiesa se base by Immedia begin haar dreig om nie vrae te vra nie. Gelukkig is haar broer Liam (op die een of ander manier gespeel deur Terence Bridgett) en sy persoonlike sushi-sjef Enomoto (gespeel deur Brad Lowenstein se ghoeroe van die MMAD-selfoon-app-advertensie. Kief. Lekker. Broe.) daar om die deus uit die machina te trek.

Agter die skerms is die enigmatiese “poppemeester” (gespeel deur Darth Vader) besig om ’n slinkse, onderduimse plan van stapel te stuur wat dreig om die wêreld in sy wentelbaan te laat tuimel en, ek’s seker, iets met sushi te doen het.

Steinmair skryf bevange en is ge-wire vir die juiste woord. Die taalpolisie kan elke Engelse woord in hierdie boek net so in die woordeboek sit; vir dié woorde ís daar nie Afrikaans nie, of liewer: dié woorde ís al Afrikaans soos wat mense dit gebruik, en hulle is nie in italics om hul volksvreemdheid te beklemtoon nie.

Hier vind jy ouskool-aksie: Trompie, Die Uile, Saartjie Bauman word opgeroep, maar ook die Hardy Boys, Nancy Drew, Harry Potter, Jo Nesbø, Vladimir Nabokov en ’n toevallige knipoog na Murakami.

Haar verwysings is dus na die hele wêreld – die musiek, flieks, rekenaarspeletjies van die wêreld; nie net die Afrikaanse wêreld nie.

En baie, baie sushi.

Om na die omslag te kyk laat jou dink dis ’n speurroman vir grootmense. (Die woord “speurroman” in die blurb versterk nogal hierdie indruk.)

Maar.

Poppekas is ’n popkuns-aksie-avontuur: Was dit Engels, het die omslag gewemel van woorde soos “zany”, “romp” en “breakneck ­pace”. Omdat dit Afrikaans is, bevat dit die woord “genre”.

Die aksie speel af soos ’n gemaklike gesprek. Die hoofkarakter het ’n sardoniese humorsin wat die trant lig hou te midde van lewensgevaarlike en geloofwaardige angsoomblikke.

Nêrens vang slim sy baas nie en die tegnologiese vernis is vernuftig aangebring sodat al die internet- en Facebook-elemente presies raak op die oor val.

Ek het Poppekas in een sitting – of liewer een lê-ing – verslind. Ek moes wel die volgende dag Red Bull drink, maar ek is diep verlig dat daar uiteindelik ’n waardige spirituele opvolger vir die Fritz Deelman-boeke is.

Die waarde van lekkerleesboeke soos dié kan nie oorskat word in Afrikaans se ontwikkeling nie. Poppekas is ’n boeiende, genotvolle toevoeging tot Afrikaanse tienerfiksie en ’n oorwinning vir delikate skyfies rou vis – met view­er discretion advised.

- Marius Visser, Rapport 6 Mei 2012

No comments:

Post a Comment