tl;dr: Selfs al het jy nog nooit van Clarence van Buuren gehoor nie, sal die boek jou aandag hou, opvoed in analitiese denke en jou verbeelding prikkel.
Onlangs lees ek ’n boek oor antieke Egipte. ’n Farao marsjeer noord na wat nou Sirië is om daar te gaan oorlog maak. Hy slaap oor in ’n klein dorpie aan die kus van Palestina.
Dié aand lê hy alleen in ’n kamer, sukkel om te slaap, kyk na die wind wat die boomtakke buite die venster rondwaai.
Ons weet hiervan, want hy het dit die volgende dag op ’n stuk papirus neergeskryf.
Dit was 3 000 jaar gelede.
Nadat ek dit gelees het, lê ek die nag en kyk na die wind wat die boomtakke buite die venster rondwaai. Ek besef ek weet iets van hoe dit voel om die god-koning van ’n reusagtige antieke koninkryk te wees.
Dit voel, besef ek, presies net soos om ’n mens te wees wat alleen in die bed lê en kyk hoe die wind die boomtakke buite die venster rondwaai.
Hoekom vertel ek hierdie storie?
Ek weet dit klink na ’n baie lukrake skakel, maar ek dink toe Chris Marnewick in die saak van Clarence van Buuren begin belangstel het, het hy iets soortgelyks – ’n soort fassinasie met wat in iemand anders se kop aangaan – gevoel teenoor die man wat in 1957 gehang is vir die grusame moord op die jong Joy Aken.
Marnewick is van agt jaar oud geboei deur die verhaal. Op 10 Junie 1957 word die 35-jarige Clarence van Buuren gehang. Die bewyse dui daarop dat hy die 18-jarige Joy Aken van Pinetown ontvoer, verkrag en geskiet het, haar daarna vermink en haar liggaam in ’n afvoersloot weggesteek het. Maar tot die dag van sy dood het hy volgehou hy is onskuldig.
Net soos argeoloë vrae vra oor die ooreenkomste tussen mense wat honderde jare uitmekaar lewe, so benader Marnewick sy onderwerp: met ’n diep, menslike nuuskierigheid om uit te vind wat in die moordenaar se kop aangaan.
Die boek het my heeltemal verras. Ek het nog nooit van Van Buuren of Aken gehoor nie. Ek het nie gedink ek sou belangstel in ’n obskure raaisel van ’n halfeeu gelede nie, maar Marnewick het my uitgeboul.
Die saak was gehul in omstredenheid, maar deur die media-sirkus het ’n agtjarige Marnewick iets agter die donkerbril van Van Buuren sien glinster wat hy nooit sou vergeet nie.
“Dit lyk of hy glimlag, ’n enigmatiese, beterweterige Mona Lisa-glimlag.”
Marnewick is in dié boek ’n Howard Carter wat die geheime van Toetankamen een vir een uit ’n grafkelder dra en in die son plaas waar almal dit kan sien.
Marnewick wil graag verstaan hoe ’n jong vrou eers doodgeskiet en daarna vermink kan word deur ’n man wat op die oog af, agter sy donkerbril, so gewoon kan lyk.
Marnewick, toegerus met sy regskennis, ’n skerp Occamslem en ’n geweldige nuuskierigheid, is ’n vermaaklike, prikkelende gids deur die forensiese argeologie van die saak.
Die saak was ook destyds veral bekend omdat ’n “siener”, ene Nelson Palmer, kamstig haar liggaam opgespoor het – ’n stel bewerings waarmee Marnewick korte mette maak.
Wanneer hy sy intellek op ’n punt fokus, maak die resultaat jou nederig. Hy werk stelselmatig en boeiend deur die gegewens; laat geen steen onaangeraak nie. Trouens, stene word heen en weer gedraai en van alle kante belig.
Briewe, onderhoude, transkripsies, polisie-, hof-, mediese verslae – hy put die laaste bietjie insig uit alles wat hy in sy lang speurtog raakloop.
Dis ’n verhelderende opvoeding in analitiese denke en die regsproses. Uit die persoonlike trant van die verhaal is dit duidelik: Hy wil in sy binneste verstaan – “grok” is Robert Heinlein se fiktiewe woord vir dié intieme begrip.
Die boek is nooit vervelig nie; dis nooit verwyder van die hier-en-nou nie; en dit bly menslik: Die “karakters” kry stem en hart en die leser sit op die rand van sy stoel.
Marnewick het ’n goed ontwikkelde sin vir geregtigheid, en verwoord die noodsaak van ’n morele regspraktyk baie helder, al was dit glad nie sy doelwit om eietydse polemiek te bespreek nie.
En hy kom nie vorendag met ’n fantastiese samesweringsteorie om die gegewens te maak pas nie.
In die weermag se intelligensiediens maak hulle onderskeid tussen informasie en inligting. Informasie is die rou data en gegewens, en inligting is die gevolgtrekkings wat jy gebruik om besluite te neem.
Hier gee Marnewick ons al die data, gegewens en informasie wat moontlik betrekking kan hê.
Ons moet self die inligting skep. Dis ’n baie bevredigende proses.
- Marius Visser, Rapport 29 April 2012
No comments:
Post a Comment