|  | 
| Die twee lewens van Dieter Ondracek deur André Krüger | 
tl;dr: Te veel eksposisie maak die aksie dood. Probeer hy 'n Nazi verskoon vir sy dade? -- want as blote verduideliking stort dit in duie...
Dié boek ruk jou uit Suid-Afrika, en selfs uit Afrikaans, tot in 
Duitsland voor die Tweede Wêreldoorlog, en dít is sy grootste prestasie. 
Tot 20 000 spoorwegwerkers in Nazi-Duitsland het geweet hulle pleeg 
massamoord, en is nooit vervolg nie.
In Die twee lewens van Dieter 
Ondracek ontmoet ons een, die ingenieur Dieter Ondracek. Treine is sy 
passie. Ons volg sy genesis as die een wat die treine laat loop na die 
konsentrasiekampe. Ons volg sy opgang, sy val, sy vernedering, en sy 
hervestiging, as Nazi-vlugteling in Suid-Afrika, waar hy skuil van sy verlede, 
en van Simon Wiesenthal.
Ons kan sien waarheen die boek mik: aandadigheid, skuld, 
verlossing. Hoe skuldig is dié wat alles geweet het, maar niks gedoen het om dit 
te keer nie? Is daar verlossing?
Ondracek word uitgemaak as slagoffer van omstandighede. Die groot 
agtergrond van die oorlog beheer absoluut sy lewe. 
Is dit hy wat so dink, of die skrywer? 
Die feit dat ek vroeg begin wonder het oor die skrywer, is vir my 
’n swakheid van die boek. Word Ondracek aangekla, of moet ons jammer voel vir 
hom; met hom identifiseer?
Ek is eerlikwaar nie seker nie.
Ondracek is ’n lafaard. Die wêreld gebeur met hóm; hy doen niks. Hy 
is (eers) passief aandadig tot volksmoord: Dit resoneer dalk nog met gewone 
Afrikaners. Wie is skuldig as almal meegedoen het?, ensovoorts.
Dan betree Ondracek ’n ander vlak: Hy gee die bevele. Hy verlaat 
die grys-area, en die ooreenkoms (vir gewone mense) met apartheid stort ineen. 
Die vraag: Hoe aandadig is ons almal? word een van: Hoe aandadig is die 
bevelvoerder? en dis duidelik: Heeltemal.
Ek sê nie elkeen wat deel was van die geweldsmasjienerie kon soos 
’n engeltjie, heldhaftig en edel alles stopgesit het nie. Daar is monsters in 
mense en mense in monsters en om dié dualiteit te ontken, lei tot fanatisisme. 
Maar dié boek laat my ongemaklik voel met wat dit sê oor die aanspreeklikheid 
wat jy wel het oor jou besluit oor wat jy gaan doen met daai monster.
Lydende sinne en eksposisie is die orde van die dag in wat voel 
soos ’n essay oor determinisme wat ons nie betrek as deelnemers nie. Buiten ’n 
paar aksietonele is dit die opsomming wat ’n skrywer maak, vóór hy die moeilike 
taak van skrýf aanpak.
Die min kere wat Ondracek tot aksie oorgaan beweeg die storie 
lekker, net om weer in eksposisie te sink.
Dis nuttig dat die boek sy temas uitspel: Toe ek dink dis ’n 
konflik tussen argetipes, sê die boek in soveel woorde vir my dis ’n konflik 
tussen argetipes.
Die vernaamste argetipe wat onrus baar, is die femme fatale. 
Ondracek raak verlief op ’n vrou genaamd Sabine. Hoekom hou sy van hom? wroeg 
hy. Hy is heeltyd op soek na koestering en verlossing, en dink hy gaan dit by ’n 
vrou kry. Hy, en die leser, raai gou dinge is te goed om waar te wees. Sy 
reaksie is dankbaarheid en verafgoding; die leser wag vir die train smash. 
’n Karikatuur soos Sabine kan net dui op verraad. Dis wat femmes 
fatales doen. Sy kry die skuld vir al Ondracek se dade. 
Haar skynbaar oorweldigende aangetrokkenheid tot walglike mans (sy 
kan haarself nie help nie) het ’n sweem van vrouehaat. Weer wonder ek of dit die 
skrywer of Ondracek is wat dit so sien? 
(As Ondracek só laakbaar is, hoekom hóm gebruik as ’n voertuig vir 
verlossing? As dit die skrywer is, sies. Wie ook al dit is, dit breek die 
fiksie.)
Wat Krüger regkry, is om te skets, in te kleur en die sintuie te 
betrek. Die detail van Berlyn en dié se verval gedurende die oorlog, van treine 
en meganika, van Melville (waar Ondracek in Suid-Afrika bly) in die 1950’s, van 
Johannesburg en die straatlewe van die tyd, is solied en die roet pak in jou 
neus saam. Dié eye candy trek jou, 
soos broodkrummels, deur die lang tye waar die skaakstukke een vir een 
reggeskuif word. 
Dis lekker om Afrikaans te lees wanneer jy weet die karakters praat 
eintlik Duits; mens beoordeel nie die dialoog op grond van “outentiekheid” nie. 
Suiwer Afrikaans sonder die vangplekke van spreektaal is ’n aangename 
ervaring*.
Nick Cave, (en ek glo Krüger ken sy musiek), sing van ’n 
“microscopic cog in his catastrophic plan”, en dis wat Ondracek gemaak word, 
enduit. 
Hy hou aan met neul oor sy skuld (volpunte aan hom) én hy blameer 
Sabine. Wat nou? Skuldig? Of “slagoffer van onpeilbare magte wat hom meegesleur 
het”? J’accuse of j’excuse?
Onsekerheid kan effektief wees om ’n karakter realisties te maak, 
maar dubbelsinnigheid is steurend as dit die skrywer besluitloos laat voorkom. 
Ek vermoed mens moet van Dieter Ondracek hou; maar gemeet aan sy dade, en nie 
aan die meerendeels positiewe lig wat op hom val nie, kan ek nie anders as om 
hom te verdoem nie.
Jy kan sê: Die skrywer verdoem hom óók! Dan los dít die vraag: 
Hoekom het Krüger dit nodig geag om my ’n hele boek lank te probeer oortuig hoe 
’n slagoffer Ondracek is? Een wat uiteindelik, toe alle struikelblokke tot 
eerlikheid uit die weg geruim is, stééds nie agentskap kan neem en die regte 
ding kan doen nie.
’n Onbevredigende tesis.
* Ek het wel, kleinlik, ’n anachronisme raakgesien, wat ek wil 
deel, bloot omdat dit interessant is: Die woord “pote” vir die polisie is eers 
in die 1970’s gemunt deur Thijs Nel, wat oorklanking gedoen het en iets moes 
vind wat pas by die mondbeweging van “des poulles” (Franse slang vir polisie – 
dit beteken “hoenders”). Afrikaans is ’n mynveld.
- Marius Visser, Rapport 17 Junie 2012
- Lees die resensie van hierdie resensie deur Litnet se resident-metaresensent Crito. (Tweede deel van die artikel.)
- Kyk na die voorprent vir die Die twee lewens van Dieter Ondracek.
 
 
 
No comments:
Post a Comment