Friday, 11 October 2013

Broodnodige vertelling, ongeslaagde formaat

Moord en roof: In die kop van ’n baasspeurder deur Albert Blake. 

Het verskyn in Rapport se Boeke-bylae, 6 Oktober 2013.

Die ware verhaal van ’n baasspeurder in die Wes-Randse moord-en-roof-eenheid... Dít skep verwagtinge: ’n Bietjie speurwerk, byvoorbeeld, sou miskien ’n rol moet speel. 

Die speurwerk hier kan soos volg opgesom word: “Ná intense speurwerk is die verdagtes aangekeer”; of “Ná hulle inligting van informante ontvang het, is die verdagtes vasgekeer”; of “Absoluut toevallig het hulle die verdagtes vasgekeer/doodgeskiet”. Die einde van die speurwerk.

Dit is nie dat dit ’n slegte boek is nie. Hy is suksesvol vir wat hy probeer wees binnekant die omslag: ’n geskiedkundige boek van rekord. 

Dit is net dat die omslag hom soos een of ander spannende speurverhaal wil laat lyk.

In der waarheid is daar ’n kort opsomming van Charles Miller se omstandighede, behendig en simpatiek gedoen, gevolg deur anekdote op anekdote op (sieldodende) gewelddadige dog kliniese anekdote.

Hierdie storie van ’n wit, rassistiese man wat onder onmoontlike omstandighede die smerige vuilwerk van ’n desperate 1970’s- en 1980’s-apartheidsregering gedoen het, verdien om vertel en gehoor te word. Dit moet dalk veral deur ons nie-Afrikaanse landgenote gehoor word, as ’n soort rekord van onmenslikheid en ’n insig in wat dit aan ons wit gemoedere gedoen het van die binnekant af.

In die formaat wat dit hier op my lessenaar lê, het ek egter nie veel hoop dit gaan ernstig opgeneem word nie.

Ek het respek vir die skrywer wat so ’n sensitiewe stuk ervaring menslik probeer aanbied, en moes elke nou en dan myself herinner ons praat eintlik hier van ’n man wat as ’n gewillige handpop menige maal vyande van die regering doodgemaak het.

En ek dink ons almal met ’n bleek gelaat het daardie ervaring ná apartheid: Dat ons iemand ken, miskien in ons familiekring, wat eenvoudig in ’n sekere sin heeltemal verlore is vir die samesyn van die reënboognasie, maar wat op ander terreine steeds ’n sagte hartjie blyk te hê. Dan sit ons met daardie dualiteit waar ’n mens wil verskoning maak aan die wêreld: “Ag, oom Kallie (of wie ook al) is eintlik baie nice,” ensovoorts, maar net nie met swart mense nie... 

Nietemin: Dié boek bied sy anekdotes in beendroë boekafrikaans, soos ’n stuk of 300 redaksionele kommentare in ’n ry. Hy bied dit eerlik aan, bewus van die problematiek én bewus van die slagoffers én bewus van die wit polisiemanne se eie slagofferskap – ’n baie dun en eensame paadjie om te stap.

Ongelukkig – weens die polities korrekte walgooi wat dit behels – kom dit soms ’n bietjie apologeties voor. 

As toegif is daar ’n argument vir die doodstraf wat ek nog nie oorweeg het nie. Dié harde polisiemanne het monsters en misdadigers gejag sonder ophou, totdat hulle gevang of dood was. En as hulle gevang is, het die speurders hul regstaak sorgvuldig en deeglik gedoen, want die doodstraf was vir hulle ’n beloning vir hul harde werk. 

Doodstraf as motivering vir goeie polisiëring... Wie sou kon dink?

Dié boek ís interessante leesstof, maar die kliniese taal en vertelstyl maak dit nie juis ’n lekker ervaring nie en ’n mens kry gou die punt: It was a dirty job, but (apparently) someone had to do it. 

No comments:

Post a Comment