Friday 11 October 2013

Dan Brown: Swak skrywer, goeie verteller

Inferno deur Dan Brown. Uitgewer: Doubleday.

Het verskyn in Rapport, 14 Julie 2013.

Die beste ding omtrent Inferno van Dan Brown is al die parodieë wat dit tot gevolg gehad het. Die arme resensente voel aan hulle is impotent teen die fenomeen van Brown se hipergewilde boeke. 

Dit help skaars hulle trek die skryfstyl uitmekaar of wys op die clichés en onnodige herhalings in die teks, die onlogiese storielyn, die wisselvallige verhouding met die werklike historiese gegewe, die gemengde metafoor, die kitsvermaak-resepmatigheid, die deursigtig-dun karakters... 

Shame, maak nie saak wat resensente oor die literêre waarde van sy boeke te sê het nie, dit gaan verkoop soos koekies met baie suiker in. So, in hul impotente woede skryf hulle skreeusnaakse artikels in die purple styl van die boeke – dit is al wat ons kán doen. Gaan soek op die internet by The Guardian enThe Daily Telegraph.

As dít Brown se grootste bydrae is, dan is dit al klaar goed so. 

Ons kan natuurlik binnekort die fliekweergawe van die boek verwag, met ’n toenemend afgeleefde Tom Hanks in die rol van die “ikonoloog en simboloog” (’n fiktiewe terrein van studie) Robert Langdon. 

Saam met hom in dié boek is die jong wonderkind Sienna Brooks (vasweg gegrond op die Lisbeth Salander­karakter van die Millennium-trilogie).

Saam takel hulle ’n raaisel wat wentel om Dante se La Divina Commedia, en maak daarvan iets minder as “divina” en allermins “commedia”.

Langdon word wakker met geheueverlies in ’n hospitaal in Flo­rence. Hy kom agter hy het reeds ’n groot geheim ontsyfer en nou moet hy en sy onwaarskynlike hand­langer, Brooks, weer sy eie spoor navolg om, soos hulle vermoed, die wêreld van sekere uitwissing te red. 

Terselfdertyd is ’n span sinistere agente op hul spoor. Dit is, glo dit of nie, ’n resies teen tyd, maar die bose meesterbrein (of dalk versiende ideoloog?) Bertrand Zobrist bly – al is hy reeds dood – hulle een stappie voor.

Die element wat van Da Vinci ­Code so ’n treffer gemaak het, is weer hier: stom-eenvoudige raaisels wat die leser kan uitpluis 27 bladsye voor die hoofkarakter aandui dat hy snap wat aangaan. 

Brown het reeds sy tande in godsdiens en internasionale politiek geslaan met sy vorige boeke; nou pak hy oorbevolking en die hel van wedywering en konflik wat dit oënskynlik tot gevolg gaan hê. 

Dit dien geen doel om verder oor die storie aan te gaan nie. As jy van Brown hou, gaan jy mal wees oor hierdie boek – en hoekom dan nie?

Brown weet van storie-verpakking. Alles speel af in die bestek van 24 uur; die hoofstukke is lekker kort sodat ’n mens kan gaan koffie maak sonder om iets mis te loop; beskrywings is voetstoots en visueel sodat die regisseur kan weet wat aangaan; en die product placement is afge­handel.

Die boek se einde is selfs moreel bedenklik, gereed om eindelose kletsprogram-gesprekke aan te vuur wanneer die fliek uitgereik word.

’n Mens wonder soms of Brown nie dalk reeds sy eie werk parodieer nie?

Enige skrywer van aksie-rillers behoort kennis te neem van die dinge wat Dan Brown regkry in sy stories. Hy trek die gewone leser in en kry dit reg om die aandag te fokus op die smoke and mirrors, sodat ’n mens ongeduldig bo-oor die swak plekke lees. 

Aan die ander kant: Daar is so baie swak plekke dat dit enige na­betragting van die boek oorheers.

Dit wys jy kan ’n swak skrywer wees en ’n goeie storie vertel, seker ook die teenoorgestelde. Miskien kry Brown eendag albei gelyk reg.

No comments:

Post a Comment