Wednesday, 21 September 2011
Resensie: The Unexploded Boer deur Erich Rautenbach
Verbeel jou almal in die wêreld skryf ’n outobiografie. Nie almal van daardie boeke sal interessant wees om te lees nie. Hierdie boek is ongelukkig een van hulle.
Erich Rautenbach vertel in The Unexploded Boer van sy komplekse jeug in die 1970’s in die rock ’n’ roll- en dwelmkultuur van Kaapstad en Johannesburg.
Hy skets ’n dissonante tyd: Apartheid is op sy hoogtepunt en fisieke onderdrukking vier hoogty, maar dit is ook die tyd van vrede, liefde, groovy tye, soel somernagte by rock-konserte… Dié dualiteit verskerp sy vervreemding: as ’n kind uit ’n disfunksionele familie, slagoffer van ’n pedofiel, tussenweefsel tussen Afrikaner en Engelsman, vaagweg bewus van die land se vergrype en onreg, maar stomgeslaan deur die totaliteit van die lewe.
Dis die storie soos dit aan ’n spookskrywer vertel sou word, vóór die spookskrywer die geheel saamsnoer om ’n spannende narratief, met bykomstighede soos karakters en plekke, in te sluit.
Hy mik vir ’n sardoniese, onderbeklemtoonde verhaal van wat hy dink is die onderwêreld van Suid-Afrika, iets wat “die gewone mens” sal skok as hy moet uitvind dit bestaan in so ’n noue verband met die “oppervlak-”wêreld. Hy wil dit humoristies doen, selfspottend, maar hy wil ook homself uitbeeld as ’n slagoffer van ’n onmenslike stelsel.
Hy skets homself as ’n kulturele verstoteling. Dat die Afrikaners hom weggegooi het soos ’n ou tekkie, maar dat die “inboorlinge” hom tog aanvaar. (Die “kullids” van die Bo-Kaap en die Zoeloe daggaverkopers… Hy wíl hom vereenselwig met hulle, maar daarvoor bly hy te wit – en hier bedoel ek die wit van die verstand, nie die vel nie.)
Hy is meteens alle Engelse Saffas (Rautenbach woon nou in Kanada) van tweede en verdere generasies. Hy is die verontskuldiging wat non-Afrikanerskap jou genadiglik bied én hy is die rooi grond van Bloedrivier.
Hy is regtig deurmekaar.
Dis in daardie gleufie waarin hy sy soeklig gooi. Ongelukkig hou hy sy hand voor die lens en dit is net per ongeluk dat ’n bietjie lig deurkom.
Wat ’n sardoniese vertelling moes gewees het, ontaard in ’n persoonlike blog-inskrywing wat oorvloei van teleurstelling, bitterheid, onkunde en samesweringswaansin.
Hy’s nooit snaaks nie (tensy jy die soort is wat lag vir ’n kleuter se vloermoer). Hy’s te onstabiel as ’n verteller om ernstig opgeneem te word. Trouens, hy’s gedurig onbetroubaar. Afrikaanse woorde word verkeerd vertaal en onthou (“moer” beteken nie wat hy dink nie).
Die gebeure word genadeloos opmekaargestapel, sonder pouse om motiverings te ondersoek. Só blameer sy ma hom byvoorbeeld vir sy pa se verdwyning, maar in dieselfde paragraaf vergewe hy haar, sonder om te verduidelik hoekom hy so bomenslik is. Dan gaan die storie plotseling aan… Volgende skyf, asseblief.
Die 17-jarige karakter en die volwasse verteller se stemme is nie onderskeibaar nie. Dis die storie van ’n kinderagtige, egosentriese 17-jarige, vertel deur ’n kinderagtige, egosentriese grootmens.
Sy plekke en karakters kry nooit gestalte nie. Die Kaapstad van sy verhaal is net ’n lys plekname, wat sekerlik sy tydgenote nostalgies kan maak, maar vir die res van ons ’n leë lys klanke sal bly. Beskrywings ontbreek, óf is so hoogs persoonlik dat die geestesoog nie van die skryfstyl kan wegdwaal nie.
Selfs sy jonger-self-karakter word oordonder deur die onlosmaaklike verteller-stem. Die enigste ander karakters wat amper tasbaar word, is die polisiemanne in die tweede helfte van die boek.
Selfs die kardinale figuur van Bridget, die hardcore hippie-chick, bly soos ’n skadu teen ’n muur. ’n Mens voel lus om die verteller uit die pad te stamp, want hy blokkeer keer op keer jou uitsig in sy wêreld in.
Die boek faal.
Daar’s nie karakters nie, daar’s nie spanning nie. Dis ’n reeks gebeure vertel deur die stem van ’n man wat steeds nie sin daaruit kan maak nie. Die humor val plat. Dit klink skril en narcisties.
Die nostalgie werk net as jy self daar was en in dieselfde tydperk gelewe het. Daar’s geen openbarings nie, tensy jy vreeslik naïef is.
Ek vrees hy gaan my kritiek afmaak as die verwagte Afrikaner-reaksie op sy “verraad”, want hierdie boek is ’n eggo van Rian Malan se My Traitor’s Heart.
Rautenbach bou ’n verweer teen kritiek in sy boek in. Ek weet hy dink Afrikaners dink hy’s ’n verraaier.
Hy was ’n soutie, en ’n dwelmhandelaar, en die produk van ’n komplekse maatskaplike foltering…
En dís by uitstek ’n gebiedende posisie waaruit mens ’n gatskop-boek kan skryf.
Hierdie is ongelukkig nie daardie boek nie.
- Marius Visser, Rapport 11 September 2011
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment