Die kamferkis deur Sjane van Aswegen. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R130.
Kamferhout is bitter, en dit hou die motte weg. Dis hoekom hulle in die ou dae trousseau-kissies daarvan gemaak het.
Maar pasop wat jy daarin sit: Aan die einde van jou lewe het jy dalk ’n vars klomp bitterheid.
Sjane van Aswegen skryf in Die kamferkis ’n kort, op die man af verhaal oor bitterheid, berou en oudword.
Ons ontmoet die korrelkop tannie Mien de Jager in ’n ouetehuis waar sy hardkoppig skop teen haar liggaamlike aftakeling en die neerhalende manier waarop jong mense haar behandel. Haar verhaal ontvou uit haar herinneringe, wat sy sorgvuldig wegbêre in haar oorgeërfde kamferhoutkissie.
Eens was sy ’n wonderlike jong meisie, tot barstens toe vol liefde en talent. Toe ontmoet sy ’n jong man op ’n familievakansie. Die liefde blom.
Wat volg, is meer voorspelbaar as die Suidooster.
Narratiewe prerogatief het nie brieke nie en as die noodlot betrokke is, dan kan daar net een uiteinde wees: tragedie.
Elke denkbare teëspoed tref die arme Mien. Ek gaan nie die storie weggee nie, maar glo my, dis “Murphy’s law” vervleg met Calvinisme: Alles wat kan skeefloop, loop skeef, tot in die sewende geslag.
Kan soveel pyn een mens tref? Ek dink die antwoord is: Ja. Hoewel die gebeure voorspelbaar is, het hierdie soort ding beslis taamlik gereeld gebeur in die tyd waarin die verhaal afspeel, die 1940’s.
Wat vir die jong Mien volg, is ’n Pot vol winter, maar hierdie keer is die sedeles gerig op grootmense, oumense, pa’s en ma’s en nié op die tiener nie.
Hoe leef jy deur die teleurstelling sonder om die mense wat jy liefhet te verwerp? En hoe maak jy uiteindelik vrede met jouself?
Dis verwerping en die liefdelose navolging van trots en aansien wat die seerste byt. Ná haar groot tragedie lewe Mien asof sy deur ’n sterk stroom die see ingetrek word. Sy neem nie beheer oor wat met haar gebeur nie en sy hou aan dink aan haar lewe as ’n reeks ongelukke wat met haar gebeur as ewige, verdwaasde slagoffer.
Ons, die leser, betree die verhaal heel aan die einde. Die treurmare lê ver in die verlede.
Ou Mien is deur haar dogter ouetehuis toe “gepos”. Sy moet met die leuens vrede maak en doen dit met behulp van ’n werker by die ouetehuis, ’n jong vrou met ’n baie toevallige verbintenis tot haar lewe. Haar hart gaan oop vir dié jong mens en dit word die katalisator vir haar soeke na vrede in haar laaste jare.
Die beskrywing van oudword en van Mien se binnelewe is regtig goed. ’n Mens voel in die reguit skryfstyl die frustrasies en laster wat ’n mens moet beleef soos jou lyf stuk vir stuk afskakel. Die reis na die dood steel jou menswaardigheid, maar Mien veg hard om daardie verlies te vervang deur iets meer duursaam, en uiteindelik beheer terug te worstel.
Haar verhaal wentel om die ou kamferkis waarin sy al haar herinneringe inpak en wat sy dan weer dig sluit.
Daar’s ’n slinkse teenstrydigheid ingebou: Die bitterheid moet uit, maar die kis hou motte weg en hoe langer die wag, hoe minder weerbaar is ’n mens teen die varsheid van die pyn.
Mien moet op die einde ’n bomenslike poging aanwend om die verlede op te haal en reg te maak waar sy kan.
Hoe suksesvol sy is, bly ’n oop vraag en die boek gee nie maklike antwoorde nie. ’n Paar Bybel-aanhalings gaan nie help nie, sê die skrywer, terwyl sy terselfdertyd dié soort geestelike taal inspan sodat sy in die dialek van haar gehoor kan praat.
Plek-plek raak die boek betrokke by die regte wêreld, met die dubbelsinnigheid van selfone en moderne toestelle. Maar verwysings na die Groot Problematiek, soos Ras en Sosiale Ongelykheid, ontbreek. Lesers sal byvoorbeeld die karakters se ras kan aflei, maar niks word op die naam genoem nie. Hulle is mense en vir Mien is niks verder belangrik nie. Is dit nog ’n bitterheid wat sy ontgroei het? Of word dit versuiker? Dit word ’n interessante manier om te dink aan ons verlede: Haal die kleur uit die storie uit en wat het jy oor? Mense, blyk die antwoord te wees.
Haar storie sal jou boei en mense van enige ouderdom sal aanklank vind by die slim balans wat sy probeer hou onder die beleg van die lewe. Daar is baie geestelike versterking te vinde en die ontknoping – alhoewel nou nie Tuesdays With Morrie nie – is tog bevredigend.
Die einde is miskien nie die klinkklare Christelike vergifnis wat sommige mense sal verwag nie. Hierdie vrou is net te diep seergemaak. Maar haar reaksie en die vergelding wat sy eis, is eerlik en menslik.
Van Aswegen skryf met deernis en die mense en die Kaapse landskappe kry ’n gedetailleerde gestalte. Sy is goed met wat sy doen en al sal die boek die hardste praat met vroulike, Afrikaanse Christene, is daar tog iets universeels aan. Dít getuig van ’n ervare insig in die klein tragedies van die lewe.
- Marius Visser, Rapport 23 Oktober 2011
No comments:
Post a Comment