Tuesday 3 July 2012

"Witskrif" van 'n boekresensie

Kliek hier vir Finale Weergawe in Rapport



LEES EERS: Hierdie resensie is 'n voorlopie konsepdokument. Dit is nie die finale produk nie. Ek wil 'n eksperiment doen om te sien wat die reaksie daarop sal wees, sodat die finale produk meer gerig is op lesers, en sodat daar reeds 'n gesprek bestaan wanneer dit gedruk word. Ek doen dit in my persoonlike kapasiteit. Terms and conditions apply.

Resensie: Rodriguez deur Piet van Rooyen


Ná heelwat teleurstellings die afgelope jaar, het ek baie hoop op Rodriguez geplaas.

Die flapteks beloof 'n "eg menslike verhaal deur 'n bekroonde skrywer". Die "bekroonde" is soms rede tot kommer, maar Piet van Rooyen lyk na die ware Jakob: M-Net Boekprys in 1998 vir Die olifantjagters en in 1993 die eerste prys in die Tafelberg/Sanlam/De Kat-romankompetisie vir Die Spoorsnyer.

Daarbenewens het hy al 18 boeke die lig laat sien, insluitende akademiese boeke en 'n paar digbundels, wat almal redelik goeie resensies gekry het. Hy is tans professor in politieke wetenskap by die Universiteit van Namibië, met 'n agtergrond in antropologie.

Benewens bogenoemde benewens, is hy van die Ernest Hemingway-skool: buitelug, aksie en avontuur -- "manlike" dinge, en nie skaam daaroor nie.


Selfs sy benadering tot die lewe en tot Afrika klink belowend: "Die Afrika-ingesteldheid is op ’n aanvaarding van kwessies eerder as ’n oplossing daarvan," sê hy in 'n profiel van hom op Litnet.

Ek het nie Hoë Kuns-verwagtinge gehad nie, maar darem 'n boeiende, lekkerlees verhaal wat spanning en politieke intrige sinvol kan verweef.

Maar Rodriguez is 'n perd met 'n af been.

Kom ons kyk eerste na wat die boek wíl wees. Deesdae maak uitgewers voorprente vir boeke, wat hulle op YouTube sit:


Dié lokprent, asook die flapteks, maak baie van die spanning en aksie, die vrees en die intrige: Skerf Malan word as student gewerf vir Nasionale Intelligensie (gemiddeld: 75 volgens my bronne). Hy word geleer om 'n dubbele lewe te ly lei (Dankie aan Chanette Paul wat my eie simpel spelfout daar uitgewys het) 'n ander identiteit volkome aan te neem, dié van Rodriguez, 'n Portugese Angolees met 'n militêre verlede. In dié gedaante word hy Mosambiek toe gestuur om Renamo dop te hou van naby af. Hy moet 'n vertroueling word van Afonso Dhlakama ('n werklike persoon) en inligting terugstuur Suid-Afrika toe.

Die storie begin in 1990, met sy ontplooiing in die woud.

So beleef ons sy ontberinge, afgesny van sy mense, tussen vreemdelinge -- 'n mikrokosmos van die onbekende. Hy leef as ooggetuie van hulle geweld en interne spanning, en hy verloor homself in die eenvoud van die bos en die fokus van oorlewing.

Piet van Rooyen
Terselfdertyd is daar aanduidings dat iets nie pluis is met die oppervlak-gegewe nie. Die eerste gedagte wat opkom is dat hierdie 'n satire is van Westerse en spesifiek die Afrikaner se bemoeienis met omringende kulture is. Geheime agente is "narre" en die intelligensiediens is die "sirkus"; Rodriguez is gelyk ingelig en snel van denke, sowel as amper fataal naïef en lomp. Dieselfde tema wat ons al voorheen in grensoorlog-stories (oor die algemeen) gesien het, is hier, van hoe die dapper, patriotiese soldaat verraai word deur die realpolitiek van die NP-regering.

Maar dis alles aan skerwe... Die boek spring te veel rond van toneel na toneel sonder om spanning te bou, sonder om 'n intrige sy gang te laat gaan, voor dit weer skielik in 'n ander rigting duiwel. Meer hieroor later.

'n Ander manier om die boek te lees, in ag genome Van Rooyen se antropologie-agtergrond, is dat hy die strukturalisme van Claude Lévi-Strauss wil dekonstrueer om daarmee te argumenteer teen die Marxisme.

Diep simboliese goed


Moenie lag nie; dié perspektief is beslis hier te vinde. Vir Lévi-Strauss is die antropoloog in 'n vreemde kultuur besig om 'n persoonlike revolusie te ervaar wat van hom 'n nuwe mens sal maak. Eers dán is hy gereed om werklik te observeer. Vat my woord daarvoor.

(Moet nooit iemand se woord daarvoor vat nie.)

In dié boek is die proses aan die gang, behalwe Rodriguez trek die eienskappe van die "ander" vir homself aan: hy word semi-magies, beleef die woud deur die sintuie van die "primitiewe mens" en trek uiteindelik die mantel aan van die Krygsheer van wettelose samelewings.

Só kan mens aangaan: Hy lees 'n Graham Greene-boek in 'n stadium, maar gooi dit briesend teen die muur. Greene was natuurlik 'n kommunis, sien, en dié boek, The Human Factor, is nog anti-apartheid óók.
Maar mens moet stop, want die boek is nie in dié vorm 'n diepte-analise werd nie.

Wat het verkeerd gegaan?


Dieselfde ding wat deesdae veels te gereeld gebeur: Ek dink die uitgewers was te haastig om die boek van 'n bekroonde skrywer te publiseer.

Dit wemel van tikfoute. Ek sal jou nie verveel daarmee nie, behalwe dat selfs die naam van 'n belangrike karakter op 'n plek verkeerd is. Queillerie het laat weet hulle werk hard aan 'n tweede uitgawe.

Maar méér steurend is die skrywer se vreemde ... besluite. Die aanhaling (in Engels) aan die begin is van Vergilius. Hy het in Latyn geskryf, nie Engels nie. Hoekom nie 'n Afrikaanse vertaling gebruik nie?

Die tydsaanduiding wat ons kry in die boek en op die flapteks is 1990 en verder. Hoekom is PW Botha dan nog aan bewind?

Rodriguez gebruik 'n handgrootte GPS... in 1990. Dit word só verduidelik:

"Dan druk hy die knoppie op sy handgrootte digitale satellietstelsel (ook bekend as 'n globale posisioneringstelsel) en kyk waar hy is.""
Vreemde gebruik van parantese, binne prosa, om iets wat baie tegnies klink te verduidelik met 'n term wat selfs méér tegnies klink. Dit terwyl almal op ganske aarde weet wat 'n "GPS" is.

Op een plek gebruik Van Rooyen binne 'n eerstepersoonsvertelling

  1. 'n genommerde
  2. lys --
  3. wat ook nogal vreemd is
  4. vir prosa.


Hier's een wat my heeltemal verwar: In 'n stadium kom daar 'n sin by Rodriguez op -- 'n lang, Engelse sin wat ek nie kan herken as 'n verwysing of 'n aanhaling nie. Daarna is hy "nie seker hoekom hierdie woorde vir hom in Engels opkom nie".

(Die sin wat by hom opkom is: "He is too primitive and pragmatic for him to fathom and to ultimately manipulate.")

Hel, as hy nie seker is nie, hoe moet die leser voel? Mens wil darem die sleutel hê tot hierdie ... simbolies gelaaide afwyking van die norm. Daar is geen.

Wat gaan hier aan?


Waar Rodriguez uit die bos strompel, terug in die beskawing as't ware, lees ons:

"Hy lyk soos 'n karakter uit 'n klug. Walden self wat terugkeer uit die bos. Die laaste oorlewende van Soylent Green, Westworld of The Ultimate Warrior."

Hoekom verwys na drié flieks (een Charlton Heston, twee Yul Brynners)? Dít ná 'n hele boek waarin voorheen slegs kol. Kurtz van Apocolypse Now (die karakter in Heart of Darkness is net 'n mnr.) en Graham Greene genoem is, nou skielik drie in 'n ry. Almal met min of meer dieselfde betekenis.

Yul Brynner in Westworld
Maar die meer uitgelese leser (uitgelese leser?) sal dalk reeds vasgesteek het by " Walden self wat terugkeer uit die bos". Henry David Thoreau het 'n boek geskryf genaamd Walden, wat (en ek loop die risiko om lasterlik te vereenvoudig) gaan oor sy jaar in die bos langs 'n meer genaamd Walden Pond. In dié tyd, om verder af te breek aan die metafoor, het hy elke naweek sy wasgoed vir sy ma gevat en haar appelpastei geëet; nie regtig roughing it nie.

Was "Walden" hier net 'n fout?

Was dit aspris dat hy sy hoofkarakter met 'n gat vol water vergelyk? Indien wel, wat sou dit kon beteken? Ek laat dit aan julle.

Karakterisering lyk aan die begin van die boek belowend, waar nuwe karakters voorgestel word deur hul agtergrondverhale te vertel. Uiteindelik bou daar 'n ensemble op wat geredelik uitmekaar herken kan word. Daar is 'n onvoorspelbare man genaamd Gaspar, 'n goeie ideoloog genaamd Maia, die charismatiese leier, Dhlakama, en 'n jong, swart vrou, Alda, wat ons stoere Boer sweterige gedagtes verskaf.

En tog, na die einde toe is al die karakters leeg in sigself, net gevul met Rodriguez se stereotiperings. Dis deels omdat sy houding teenoor hulle so wisselvallig is:

Hy ontmoet 'n mede-"nar" wat vir 'n ander "sirkus" werk, en eers is hulle baie te vinde vir mekaar. Maar jy blaai na 'n latere hoofstuk en, skielik, "groei sy antagonisme teenoor Winterfeldt". Ek moes terugblaai (menige kere) om seker te maak ek het niks misgelees nie.

Daar is net geen waarskuwing oor hoe verhoudings tussen karakters gaan verloop nie. Dit mag so wees dat Rodriguez "vol kontradiksies" is, soos hy dan wel in die boek deur 'n fiktiewe Neil Barnard beskryf word, maar die leser wat 'n spanningsverhaal oor 'n spioen verwag, gaan met sy vingernaels moet vasgryp om die "spanning" te begryp.

Verrassing!


En toe kom daar 'n wending: By die bekendstelling van Rodriguez lig Piet van Rooyen sy gehoor in dat die regte mens op wie die storie gegrond is, self teenwoordig is, maar hy wil nie sê wie dit is nie.
Ja, dis gegrond op 'n ware verhaal.

Lees oor die bekendstelling van Rodriguez op 6 Junie 2012 by die Breytenbach-sentrum op Wellington.

In daardie geval voel dit my die man het rede om Van Rooyen vir laster aan te kla. Wel, hy was in die gehoor, en hy is gelukkig met die boek. So dít gaan nie gebeur nie. Ek kan dan slegs raai hy sukkel om te lees.

Hy word uitgebeeld as onnosel, naïef, verward, teenstrydig. Hy kan nie sy missie voltooi nie, want hy vergeet wat hy moet doen en waar sy lojaliteite lê. Sy begrip van die geopolitiek is belaglik; 'n bespotting van Afrikaners. Hoor hierdie:

"Hy veg aan die wenkant! Die Boere sal die skandvlek van die Engelse oorlog uiteindelik uitwis." 

Eerstens: dink hy regtig die "Engelse oorlog" is die grootste skandvlek waaroor die Boere hulle moet bekommer? Tweedens: Hy veg vir Renamo. Uitroepteken.

In kort, Skerf Malan is waansinnig, maar die boek maak dit nie duidelik dat hyself só dink nie. Die boek, soos die antropoloog, wil net 'n ooggetuie wees, met " 'n aanvaarding van kwessies eerder as ’n oplossing daarvan".

Ek hou nie van my aksiehelde as hulle waansinnig is nie.

Genoeg van 'n foute-parade. Die laaste punt wat ek wil maak is oor die afwesigheid van apartheid in die boek. Menige sal jubel, maar jinne, dis darem 'n groot olifant in 'n klein kamertjie.

Van Rooyen bied 'n vreemde geïdealiseerde rasseverhouding hier aan, waar almal volslae rassiste is, maar die groepe het réspékte vir mekaar. Ek het al daardie argument gehoor: Die wit man in Afrika moet nie swakheid wys deur toleransie en kompromie nie, want "hulle" sal dit nooit respekteer nie. In Van Rooyen se Afrika werk dit regtig só. Ek is bevrees die edele barbaar is alive and well -- nóg 'n instansie waar Claude Lévi-Strauss se idees in die maag geskop word.

Ek weet dis nóg 'n Wikipedia-skakel, maar hier is die inskrywing oor die Noble Savage.

WH Auden het gesê: "One cannot review a bad book without showing off." Ek het probeer om nie af te show nie: Alles wat ek weet kom van Google af. Ek het selfs oorweeg om glad nié die boek te resenseer nie, maar spertyd is nie genadig vir hom wat wik en weeg nie.

Dus: Dalk kan mens die beste van die saak maak deur 'n pleidooi te rig aan Afrikaanse uitgewers om hul boeke en hul skrywers bietjie langer te laat prut. Daar behoort nie middelmatige boeke in Afrikaans gepubliseer te word nie.

Die beste manier vir hulle om dié boodskap te kry, is vir jou om nie dié verwarrende, stukkende boek te koop nie.

Reaksie?

Oukei, wat dink julle? 

Kwessies:

  1. Kry mens genoeg van 'n idee van die storie? (Mens wil nie te veel weggee nie...)
  2. Ek weet ek is negatief, maar is ek bitchy? My benadering is dat ek wel 'n meer algemene punt maak, oor Afrikaans en Afrikaanse uitgewers, wat bestaansreg gee aan so 'n negatiewe resensie.
  3. Ek wonder of ek die punt sterk genoeg gemaak het dat die boek as 'n spanningsverhaal nie werk nie?
  4. Rakende hierdie hele idee om 'n "witskrif" van 'n resensie vóór publikasie publiek te maak: Gee dit mý 'n onregverdige voordeel as resensent bó die skrywer? Is dit eties?
Moenie skaam voel om kommentaar te lewer in die sterkste moontlike taal nie.

OPDATERING: (3 Julie 2012)

Ek het 'n paar vrae aan die uitgewer gestuur, en Piet van Rooyen het hulle beantwoord:

My vrae:



  1. 1990? Met soveel plekke waar PW nog genoem word? As die gesprekke oor PW wél vroeër plaasvind, moet ek sê die boek maak dit nie duidelik nie.
  2. Handheld GPS in 1990? (en gaan julle die onnodige, verduidelikende parantese behou?)
  3. Walden, bl. 263? Walden was 'n dam, nie 'n karakter, tensy dit verwys na iets anders as Henry David Thoreau? 

Piet van Rooyen antwoord:



  1. Die tyd is ‘n breë, algemene tydvak van oorgang. PW was wel in beheer vir ‘n gedeelte van Rodriguez se bos-lewe. Dieselfde geld vir die GPS.
  2. In 1997, Magellan introduced the first handheld global satellite ... the Magellan GPS 2000, GPS 315, Meridian, SporTrak, and Magellan RoadMate models
  3. “Walden” staan in die algemeen vir “Life in the Woods”, of die “Bos-man” m.a.w. die subtitel van Thoreau se boek.

SKAKELS:

EDIT: Sondag 8 Julie 2012

Lesse geleer:

  • Lesers is nie gewoond aan die informaliteit van blogs nie; verwag die gewigtigheid van 'n gedrukte artikel.
  • Een mens se entertainment is die ander mens se irriterende cutesy.
  • (Baie) Afrikaanse lesers soek baie hard redes om van 'n boek te hou.
  • (Baie) Afrikaanse lesers verwag 'n gesaghebbende naam aan die onderkant van die resensie.
  • Die paradigma is een van "Laaste Woord" eerder as gesprekvoering.
  • Woordspeling en sarkasme word nie verwag nie, dalk agv. al die spoonfeeding wat Afrikaanse media deur die jare toegepas het.
  • 'n Boek wat regtig min het om aan te prys, moet eerder heeltemal geïgnoreer word: Mense sukkel om te glo 'n boek kan oorwegend sleg wees.
  • Mense dink resensies beïnvloed 'n boek se verkope.
  • M.A.W. 'n negatiewe resensie in Afrikaans het meer negatiewe gevolge vir die resensent as vir die skrywer.
  • Ek tango where angels fear to tread.

EDIT: 4 Julie 2012 Kommentaar van Chanette Paul op Facebook:

Chanette Paul 
Marius Visser Ek kan nou nie meer so mooi onthou nie, maar dit was iets soos: Stroop tot objektiewe essensie. Laat staan bv beklemtoning, dit dui op emosionaliteit. 'n Frase soos 'moenie lag nie' spreek die leser aan en veronderstel 'n reaksie wat nie noodwendig daar is nie. Dis vir my 'n bietjie van 'n cheap shot en te familiêr. Tik gerus die uitgewer oor die vingers, maar sorg dat jy dit goed motiveer en maak seker jou stuk is foutloos as jy kla oor taalfoute. Mens lei bv 'n dubbele lewe, sover ek weet, nie ly nie. Die resensie is m.i. te lank. Verder dink ek dis 'n interessante eksperiment en jy lewer betekenisvolle kritiek waar jy nie 'n draaiknyp probeer gee nie.


4 Julie: Kommentaar van Stephni Fogwill op Facebook:

Stephni Fogwill 
Marius Visser Jy het gevra, so hier is my opinie :) Dit sal interessant wees om te hoor of iemand anders hier dit soos ek ervaar het. Ek verstaan dat jy jou resensie op 'n leesbare manier probeer skryf wat vir 'n wyer gehoor interessant sal wees maar die manier waarop jy dit aanbied sal my irriteer as ek dit gereeld so moet lees (veral die opskrifte - ek sal verkies as jy beter dink oor hoe jy jou argument wil benader en dan jou struktuur daarom bou). Jy hoef darem nie alles uit te spel en te herhaal nie en jy hoef ook nie verskoning aan te bied vir jou kennis nie. Dis hoekom jy die resensie skryf. (En vir my is ekstra inligting in resensies hoekom ek hulle lees) Dis bietjie soos die goed wat partykeer vir tieners geskryf word wat net bietjie te hard probeer om op hulle 'vlak' te wees. Ek dink as jy gereeld so iets doen sal ek dit naderhand nie meer lees nie. Ek sal verkies om net op die final resensie te kan kommentaar lewer. (Oor jou derde vraag: Ek dink ook daar is meer konteks nodig oor hoekom die boek nie as spanningsverhaal werk nie)


Stephni Fogwill 
‎"Diep simboliese goed" "Vat my woord daarvoor. (Moet nooit iemand se woord daarvoor vat nie.)" Rebecca Davis het onlangs iets baie snaaks in die Daily Maverick oor Fifty shades of Grey geskryf. My man het glad nie gedink dis snaaks maar hy is nie eers amper die teiken vir die boek of die resensie nie! Ek gaan nou lekker lunch saam met my jongste. Skuus ek het nou gaan verander aan 'n opmerking wat jy klaar gelees het. Ek begin silly voel om vir 'n joernalis te verduidelik hoe om iets te skryf.


Marinda Ehlers Ek stem saam met Stephni en Chanette. Dit het die hele tyd vir my gevoel of jy probeer slim en oulik wees, en ek het gewonder of jy die regte mens is om so 'n boek te resenseer. Die feit dat jy self sê jou kennis kom van Google, laat my dink dat die boek nie in jou verwysingsraamwerk val nie. Ek het trouens gesukkel om jou resensie enduit te lees. Jammer as dit kras klink, maar dis net my mening.


Stephni Fogwill 
Vir my se dit nie iets oor jou verwysingraamwerk nie maar eerder dat jy sekere idees het oor die gemiddelde leser van so tipe boek en nou skryf jy op 'n manier wat nie eintlik jy/eerlik is nie. As jy bv iets oor antropologie wil skryf as jy dit in die boek raaksien (en dis die skrywer se agtergrond so relevant) doen dit, maar doen dit soos wat jy vir 'n gewaardeerde intelligente vriend, wat met bye boer en rekenaarsteslsels onderhou, oor 'n glas wyn net die stukkies sal uithaal wat jy weet universeel interessant is oor 'n onderwerp waaroor jy weet hy nog nooit gelees het nie. Moenie die woord strukturalistiese gebruik nie.

16 comments:

  1. Hierdie kommentaar is soos ek dit op Lekkerlees Boekrak geplaas het.

    Dieselfde ding wat deesdae veels te gereeld gebeur: Ek dink die uitgewers was te haastig om die boek van ‘n bekroonde skrywer te publiseer.

    Hiermee het ek lus om saam te stem. Dis iets waaroor ons mindere skrywers al lankal wonder.

    Kan ‘n mens foute, soos die volgende voor die redakteur se deur lê? Ek haal aan:
    “Dit wemel van tikfoute.
    op die flapteks is 1990 en verder. Hoekom is PW Botha dan nog aan bewind?
    GPS... in 1990.”

    Die laaste twee, is dinge wat my as leser, geweldig kan irriteer.

    Indien die resensent sy eie tikfout (4de para: tweede benewens moet seker gegewens wees?) sou regmaak, wonder ek of hy die guts sal hê om sy resensie te plaas?

    ReplyDelete
  2. @Lidia, dankie vir jou bydrae. Vir my raak klein foutjies partykeer buite verhouding steurend. Dis hoekom dit so belangrik is om hulle te vang.

    Daardie 2de "benewens" is reg, maar dis net 'n flou grappie wat verwys daarna dat ek al 2 keer "benewens" gebruik het... Ek hou van flou grappe, maar hulle is nie altyd lesersvriendelik nie.

    Kyk hier na die Lekkerlees Boekrak-blog: http://lekkerleesblog.blogspot.com/

    ReplyDelete
  3. Nee, ek hou gewoonlik ppk van sulke flou grappe. Almal snap dit net nie ewe maklik nie.

    ReplyDelete
  4. Ek het eintlik na die Lekkerlees Boekrak op Facebook verwys.

    ReplyDelete
  5. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  6. nee kyk hier, tikfoute en sulke baie foute sal nou glad nie die ding vir my doen nie. 'n mens kan ietsie iewers oorsien, want almal is mos net mens, maar flip - wat te erg is, is te erg.

    ReplyDelete
  7. @Julia, dis soos 'n sci-fi fliek met slegte special effects: mens gee nie om nie, solank die storie goed is. Maar as iets jou begin pla, dan sien mens skielik al die foute raak.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek voel dat die resensent se taalgebruik swak is en die kommentaar wat hyself op die kritiek lewer is onvanpas. Ek hoop nie iemand resenseer ooit 'n boek van jou nie. Hierdie resensie voel en lees eerder soos 'n leeskring bespreking van 'n boek. Moet daar nie 'n redelike beperking op die lengte van 'n resensie wees nie?

      Delete
    2. Anon; Dankie. Hierdie is 'n eksperiment. Ek skryf hierdie lang resensie sodat mense kan kommentaar lewer, en dit word dan later baie ge-edit en gesny. So dit is inderdaad te lank. Bedoel jy die taalgebruik is te informeel? Dit kan wees omdat mens a.) op 'n blog meer informeel is en b.) omdat ek dit meer vermaaklik probeer maak. Ek sal laat weet sodra die finale produk gedruk en beskikbaar is, dan kan jy kyk of daardie weergawe beter is.

      Delete
  8. Ek geniet hierdie eksperiment... dit staaf baie duidelik jou verbale argument dat 'n baie spesifieke leser so 'n baie spesifieke blog gaan opsoek - ek wonder net hoeveel mense (persentasie-gewys) wat hierdie 'eksperiment' gelees het kommentaar gelewer het?

    ReplyDelete
  9. Gegrond op pageviews: 3.3%... Maar mens kan aanneem party individue het verskeie kere die blad gelaai, so waarskynlik minder as 1%.

    ReplyDelete
  10. Vir my is dit belangrik dat 'n resensent 'n boek plaas binne 'n tendens. Hoe vergelyk die boek byvoorbeeld met Horrelpoot wat ook Heart of Darkness herskryf? Waar pas die boek in Van Rooyen se oevre? Ek sou nie Wikipedia as 'n bron gebruik nie.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Jammer, oeuvre!

      Delete
    2. Ek gebruik nie Wikipedia as 'n bron nie; ek gebruik dit op die blog sodat dié wat nie weet nie dit kan gebruik as 'n bron. Ek stem saam oor tendense, maar 'n boek moet ook op sy eie staan of val. Mens kan nie deesdae tred hou met elke tendens nie. Die kruisbestuiwing met Heart of Darkness is in elk geval baie oppervlakkig: moderne mens gan in bos in, word primitief. Dis dit.
      Wat sy oewer (hehe) betref: die macho-ding, die voor-sondeval-ding, die primitiewe terughunkering-ding... dis als in my resensie. Het jy van sy ander boeke gelees en iets raakgesien wat ons moet weet?

      Delete
  11. Piet van RooyenJuly 09, 2012 8:25 am

    Jis Marius!

    Lekker interessante ressensie! Ek is self jammer oor die tikfoute in die boek.

    Piet van Rooyen

    ReplyDelete
  12. Absoluut volpunte vir jou Piet, oor dié kommentaar.

    ReplyDelete