Tuesday 17 July 2012

Is Crito net nog 'n troll?

Ek dink dis tyd dat Crito bietjie aangevat word. Elke week, baie gedissiplineerd, resenseer Crito die boekresensies van Afrikaanse boeke wat in die media verskyn het -- 'n baie waardevolle diens.

Maar die anonimiteit en die luukse daarvan om sonder spertyd en radaksionele ... insette ... te werk, maak hom van tyd tot tyd self arrogant en intellektueel slordig.

Kyk, geen twyfel die ou kan homself goed uitdruk nie, maar hy moet ook darem aangevat word as hy die pot mis sit.

Sy laaste resensie van my resensie van Piet van Rooyen se boek Rodriguez het my gewys Crito lees partykeer haastig op soek na maklike punte. Die ad hominem help ook nie.



Ek sal puntsgewys daardeur gaan: Crito se teks in blou, my resensieteks in rooi

Crito verwys na my "drie reëls van stories":

In stories is daar geen reëls nie. Hier is drie van hulle:
In ’n spanningsverhaal moet jy weet wat die held wil bereik. ’n Ware verhaal moet geloofwaardig wees. ’n Parodie moet albei bogenoemde reëls breek.
Crito:

Mens sou hom op al drie daarvan kon aanvat.
Natuurlik sal mens hom op al drie kon aanvat: die humor in die opening is daar as merker vir die wakker (of selfs sluimerende) leser dat dit nie te ernstig opgeneem moet word nie, maar slegs dien as algemene riglyn, soos: Moenie sinne met "en" begin nie (tensy jy baie goed is daarmee).

Dié aanmerking sê vir my Crito is gereed, messe is skerpgemaak, en hatchet job gaan nou begin. Is dit die gees van hierdie onderneming?

Crito:
Ek het geen probleme daarmee as ‘n resensent nie van ‘n boek hou nie. Hy moet my net vertel hoekom nie, en dan kan mens self oordeel en besluit of jy saamstem of nie.
Hier is die dele in my resensie waar ek sê hoekom ek nie van die boek hou nie:

  1. Die helder, meesleurende traksie van Van Rooyen se vorige romans is afwesig.
  2. ... geen oorkoepelende intrige nie. 
  3. Die leser soek verniet na die leidrade...
  4. Almal in die boek (wit en swart) is volslae rassiste...
  5. ...kolonialisme (asook die A-woord) is op onoortuigende wyse afwesig.
  6. Dis verwarrend eerder as verruimend; en regtig net nie baie interessant nie.
  7. Rodriguez wemel ook van tik- en taalfoute...
  8. As regte mens is Rodriguez onaantreklik, as aksieheld is hy te passief en besluiteloos, en as ’n waarnemer van die verhoudings tussen mense is hy sy tyd agteruit. 
  9. Dis net uiteindelik nie baie bevredigend om die kaf van die koring te skei nie.  

Crito:
Vir eers sê hy Rodriguez is ‘n parodie. Ek het die roman nie só ervaar nie, maar is bereid om oortuig te word. Visser se motivering, naamlik dat die doelloosheid van die gebeure en die onbevredigende “uitbetaling” (syns insiens) hom noop om te aanvaar dat dit ‘n parodie is, gaan net nie vir my op nie.
My sin was:  Dié doelloosheid dwing mens om die roman as parodie te probeer lees.
Crito is hier besig met 'n bait and switch... intellektuele oëverblindery, want ek het nooit gesê ek is "genoop om te aanvaar dat dit 'n parodie is" nie. Ek het gesê mens "probeer dit lees as parodie". Alles wat Crito hierna sê raak 'n strooiman, waarvoor ek nie verantwoordelikheid dra nie.

Crito:
Daarna volg nog ‘n Visser-toeskrywing. Van Rooyen probeer glo Claude Lévi-Strauss se strukturalisme dekonstrueer – iets wat hy maklik aanvaar “gegewe Van Rooyen se agtergrond in volkekunde”. Watse bewysplaas is dit?
(Ek aanvaar Crito reageer teenoor die gedrukte weergawe, so ek kan nie as verskoning gebruik dat die manier waarop Rodriguez aansluit by Lévi-Strauss meer breedvoering in die blog aangeraak word nie.)

As Crito egter fyn gelees het (hehe wat 'n precious ding om te sê, vergewe my), sou hy sien daar is etlike paragrawe gewy aan Lévi-Strauss:
 Die idee dat Van Rooyen die Franse antropoloog Claude Lévi-Strauss se strukturalisme wil dekonstrueer, het by my posgevat – gegewe Van Rooyen se agtergrond in volkekunde en (1) ooreenkomste tussen spioene en antropoloë in “die vreemde”.
(2) Die hunkering na ’n primitiewe, sondelose bestaan steek ook gereeld kop uit in Rodriguez se ontmoetings met bosbewoners, (3) en die “edele barbaar”-mite, wat Lévi-Strauss breedvoerig aangeval het, kry gestalte in hierdie fiktiewe Afrika.
(4) Almal in die boek (wit en swart) is volslae rassiste, maar die groepe het “respek” vir mekaar: Die wit man in Afrika moenie swakheid wys deur verdraagsaamheid en kompromie nie, want “hulle” sal dit nooit respekteer nie. In hierdie Afrika werk dit regtig só.
(5) Dis asof die Afrikaner net nog een van die stamme van Afrika is en die magsposisie van kolonialisme (asook die A-woord) is op onoortuigende wyse afwesig.
Hierdie “veelduidigheid” maak Rodriguez nie ’n beter boek nie. Dis verwarrend eerder as verruimend; en regtig net nie baie interessant nie.
Hierdie paragrawe neem die idee verder en verduidelik: Dis nie slegs sy agtergrond as volkekundige nie; dis óók "ooreenkomste tussen spioene en antropoloë in 'die vreemde'.
Lévi-Strauss se vernietiging van die edel-barbaar mite word nét daarna genoem: dat Van Rooyen dié beeld gebruik om (moontlik) teenoor Lévi-Strauss te reageer.
Maar die belangrikste: Ek sê daar die idee het by my posgevat (om na dié ooreenkomste te soek...) Ek sê nié daardie ooreenkoms is daar nie. Crito cherry-pick. Was hy dalk een van die keurders vir hierdie boek?

Om duidelik te wees: Aspekte van Lévi-Strauss se siening van die proses waardeur 'n antropoloog gaan is sonder twyfel te sien in die boek, maar dit is nooit duidelik of dit met opset daar gesit is nie. 

Later voeg ek selfs by:
Hy [Rodriguez] vergeet wat hy moet doen en waar sy lojaliteite lê; hy word ingesuig in die rol van krygsheer en magiese figuur in die primitiewe Afrika – asof Heart of Darkness ’n onafwendbare gevolg is van Afrika ([6] weer lynreg teenoor ­Lévi-Strauss). 
Crito sluit dié deel van sy kommentaar af met: 
Ek het nie gedink resensente kan vandag nog sulke twak verkondig en glo nie.
As jy dit laat lyk asof ek geen redes gee nie, lyk dit inderdaad soos twak. Ek tel egter 6 redes hoekom die idee slegs by my "posgevat" het. Hoeveel meer noukeurig kan my taalgebruik wees?

Crito: 
Is hy opgewasse om Rodriguez te resenseer, het ek begin wonder.
Cristopher Hitchens het gesê: "I always think it's a sign of victory when they move on to the ad hominem."

Dan het hy dit oor my "flou" reaksie op die anakronisme van PW Botha in 1990. Ek het die anakronisme genoem. Ek wonder wat sou beter wees? Uitroeptekens?
Verder, oor die handgrootte GPS in 1990 sê Crito: 
... ‘n totaal verspeelde kans om aan te dui dat Van Rooyen die gebruik van GPS foutiewelik hanteer. (Enigiemand kan dit naslaan, en die kern van die fout lê in “handgrootte”, nie in GPS as sodanig nie.)
Weer moet ek myself aanhaal, waar ek redelik duidelik verwys na "handgrootte":
Die eerste handgrootte GPS is eers in 1997 gemaak. Dis nie geloofwaardig dat ’n Suid-Afrikaanse spioen in 1990 een sou hê nie. 
Maar eintlik lê die kern in sowel handgrootte as GPS: Al die satelliete was nog nie in 1990 gelanseer wat dit vir 'n lid van enige weermag anders as die Verenigde State s'n moontlik sou maak om enige GPS te hê hoegenaamd nie. Ek was, dus, nie op soek na 'n groot slag om teen Piet van Rooyen te slaan nie: wou net die fout uitwys.

En dan nou weer hierdie: 'n Baie soortgelyke aanmerking as oor my resensie van Die twee lewens van Dieter Ondracek deur André Krüger: (Crito se metacrit is hier.)
Dat hy self nie die rol van ironie in die ontsluiting van Rodriguez gesnap het nie, is ongelukkig ewe juis.
Crito dink ek het die boek nie verstaan nie. En weer eens moet ek sê: Ek hét die rol van die ironie gesnap -- dit was net nie baie interessant nie.

Soos ek dit gestel het:
Die idees in die boek is nie moeilik om te snap nie en die intertekstualiteit met elke ander Grensoorlog-verhaal is voor die hand liggend.
Dis net uiteindelik nie baie bevredigend om die kaf van die koring te skei nie. 
Ek skryf 'n resensie, nie 'n analise nie, en daarom, soos met Die twee lewens, wil ek nie die einde weggee nie. Ek hoop nie Crito klop homself op die skouer dat hy die "ironie gesnap" het nie: die ironie lê op die oppervlak rond soos sand in die Namib-woestyn. DIS my punt: Dié boeke spel alles vir jou uit. 


Moerse ironies -- maar vervelig.


Die vergelyking waaraan ek kan dink: As jy 'n sirkel teken en vir my sê dit verteenwoordig die mens se soeke na homself, is dit als goed en wel, maar leer eers beter sirkels teken.


Le Trollface
Ek hou nie van hierdie anonieme-Crito-manier-van-doen nie:(*) Dat ek hewig deurloop onder sy kritiek het seker iets daarmee te doen, maar ná hierdie een kan ek sien hy verdraai aspris van die goed wat ek geskryf het... en dit los mens altyd met die sneaking suspision dat ons hier te doen het met 'n agenda. 


Of miskien is hy daai edel-barbaar: die internet-troll.


* Ek het reconsider: Die naamloosheid is nie 'n issue per sé nie. Dit maak immers die speletjie interessanter. Almal wat anoniem te werk gaan behoort egter hulself te vra of hulle dieselfde sou sê as hulle naam daar gestaan het. Dit geld vir almal op die internet. 


PS: Terloops, ek het nou sommer Piet van Rooyen se volgende boek, Vaarwel, klein soldaat, ook begin lees want iemand het my dit in die hand gestop. Dis van 'n ander uitgewer. En amazingly is dit uiters leesbaar. Dis asof hy homself reggeruk het en besluit het: nou vertel ek 'n storie en klaar. Hy vat jou binne in 'n siek ou se verstand in, asof hy jou foto's wys van 'n motorongeluk... jy wil nie kyk nie, maar jy kan jouself nie help nie. Dus: fassinerend en leedvermakerig lekker en twisted. Hy kán. Bg. boek was net 'n mistykie.

1 comment:

  1. Hoewel ek nie sou hoop om myself enigsins so intellektueel soos julle uit te druk nie, wil ek tog noem dat ek met jou saamstem. Ek vermoed Crito se vinger is iewers in 'n pie waarvan ons nie weet nie. Ek het sy blog-inskrywing gelees en my eerste gevoel was dat hy sy mes vir jou in het. In ieder geval is ek altyd wantrouig oor mense wat nie bereid is om hul standpunte onder hul eie naam/gesig te stel nie. Dit laat my twyfel aan hul integriteit en waagmoed, en onmiddellik is ek minder geneig om te glo wat hulle sê.

    ReplyDelete