Thursday, 15 May 2008

China Aardbewing

Ek is op die grondvloer van 'n 14-verdieping gebou toe die aardbewing tref. My brein kan dit nie verwerk nie. Eers dog ek iemand werk met 'n lugdrukboor, maar die muur voor my vibreer en die rakke in die DVD winkel skuif oor die grond soos 'n ongebalanseerde wasmasjien.

Dan hardloop mense na buite, arms oor hulle koppe. Op die sypaadjie reën dit potplante en klippe. Almal kyk boontoe. Ek voel duiselig. Die wêreld reageer nie reg nie, asof ek dronk is. Alles beweeg. Die geboue begin kreun. Ek besluit om my kans te vat deur die vallende gemors. Karre stop in die hoofstraat. Duisende mense stroom uit geboue uit en 'n geruis gaan op oor die hele stad van Xi’an. Klein stukkies teëls val neer op die sypaadjie. Die hoogspanningsdrade wieg heen en weer. 'n Hyskraan swaai rond soos 'n skip se mas.

Almal is op hulle selfone. Party mense huil liggies, ander lag van die skrik. Elke oog is boontoe gerig. Die 50-verdieping China Telecom gebou wieg liggies. Dis verbasend stil. Die beweging op die grond is gou verby: miskien 10 sekondes, maar die pale en geboue vat langer om te bedaar. Dit was die Sichuan aardbewing, soos ons dit gevoel het, 630km van die episentrum af, in Xi’an, Shaanxi Provinsie. Dit was die beste dag vir 'n aardbewing: sonskyn, ligte wind, blou lug, en dit was 2:28 in die middag. Vir die volgende uur staan die hele stad in die strate rond. Niemand waag dit in geboue in nie, en meeste mense voel net veilig in die middel van die pad, so ver as moontlik van enigiets wat kan val.

Daar’s 'n ligsinnige atmosfeer. Mense geniet die sonskyn, eet roomys, ruil grappe uit. Dalk was dit die Dalai Lama, sê iemand. Dalk het Amerika aangeval. My hande bewe. Niemand besef teen daardie tyd dat die middelpunt van die aardbewing die grootste natuurlike ramp tot gevolg gehad het wat China in meer as dertig jaar getref het nie. Wat ons betref is dit 'n dag van werk af, en 'n paar oomblikke van vrees word gou vergeet in die algemene gemoedelikheid.Na 'n uur waag ons dit terug in die kantoor in, en die internet begin boodskappe deurstuur. Die eerste berigte sê niks van skade nie.

Chengdu, die naaste groot stad aan die aardbewing, rapporteer eers geen probleme nie. Dieselfde het daar gebeur as hier, neem ons aan: trouens, regoor die enorme gebied van China het mense geboue ontruim. Beijing, 1500km van Chengdu af het dit gevoel. Shanghai, selfs verder het dit gevoel. Selfs in Vietnam en Thailand het die geboue bietjie geswaai. Vyf uur die middag hoor ons van CNN dat vier kinders dood is in die Chongqing megastad, suid van ons. Dis erg, maar klink redelik vir so 'n groot skok. Mense begin hulle ervarings op die Internet en op Youtube versprei. Geen groot kommer onder die gewone mense nie. Meeste mense is onder die indruk die ergste is verbei.

Een ding pla: die regering kondig 'n massiewe reddingspoging aan. Die premier, Wen Jiabao klim persoonlik op 'n vliegtuig na Chengdu om die poging te lei. China Central Television (CCTV) begin 'n spesiale 24-uur program toegewei aan die aardbewing. Lugrederye kanselleer alle vlugte na en van Chengdu. Dan verloor ons TV-seine en selfoon-ontvangs. Die telekommunikasie netwerk word oorweldig. Die internet hou aan werk, maar konneksies is wisselvallig. Nuus kom van 900 skoolkinders, vasgekeer onder 'n vernietigde skoolgebou. Dis 7 nm en mense in Chengdu het nou al 44 na-skokke getel. 3000 soldate word ingevlieg, maar niemand weet presies waarheen nie.Effens onverwags begin die staat se offisiële mondstuk, Xinhua, om byna elke minuut nuwe inligting te versprei.

Kommunikasie is afgesny na die ergste areas, berig hulle. Dis die relatief klein stad van Wenchuan, bevolking ongeveer 120 000. Niemand kan in of uit nie; al die paaie is onbegaanbaar. Dit het begin reën daar en telefone – landlyne en selfone – is afgesny. Die weermag word ingestuur, maar dit lyk asof hulle sal moet loop. Helikopters kan nie ingaan nie weens sterk wind. Planne word gemaak om valskermsoldate in te stuur.Intussen word dit nag. Xi’an se parke loop oor. In die oudste park, gebou op 'n ou Tang dinastie paleis se gronde, sit duisende mense in die naglug en kaart speel of lees.

Studente begin 'n impromptu opvoering wat draak steek met popsterre. Mense dra stoele buitentoe en begin kamp opsit vir die nag. Vriende bel en vra of ek 'n tent het want hulle woonstel is nie veilig nie. Almal is onseker of dit offisieël is, en of mense net bang is. Stories doen die rondte van na-skokke. Op 'n stadium stuur die weermag-hospitaal teksboodskappe wat waarsku van 'n na-skok, net om dit minute later op radio te onttrek. Maandagnag is vreemd, maar niemand het nog 'n idee van die volle nagevolge nie. By die kantoor sit ek en vertaal nuusbrokkies van Engelse bronne vir angstige Chinese kolegas. Hulle is verbaas dat ek soveel inligting, so gou kan kry.

Ek vind later uit, meeste van my bronne kry hulle inligting van ander Chinese mense en vertaal dit dan, en ek bring die nuus volle sirkel.

Ek besluit om tog in my woonstel te slaap die aand. Mens moet so gou as moontlik weer op die perd klim, al is die perd in hierdie geval 'n hele planeet.Die res is geskiedenis, of gaan binnekort wees.

Die Sichuan aardbewing was 7.9 op die Richterskaal, groter as die 1976 Tangshan aardbewing wat 240 000 mense gedood het. Op daardie stadium was China besig om uit die as van die Kulturele Revolusie te kruip, en het hulle vir maande die omvang van skade ontken en buitelandse hulp weggewys. Eers sewe jaar later het hulle buitelandse joernaliste in die gebied toegelaat. Vandag se China is anders.

'n Reeks gebeure het die huidige regering laat besef hulle sal hierdie een anders moet hanteer. George Bush se trae reaksie op orkaan Katrina is nog vars in die politieke geheue, tesame met die negatiewe effek op sy populariteit. Onruste in Tibet, en die instinktiewe geheimhouding wat daarmee saam gaan, het China 'n lelike diplomatieke blou-oog gegee, en hulle wil verdere reaksie vermy. Burma se belaglike Junta is juis besig om die wêreld se veragting te wek met hulle weiering van internasionale welsyn. China sal angstig wees om 'n meer grasieuse indruk te skep. Maar dis nie hierdie buitelandse oorwegings wat die Chinese regering se grootste motivering is om nou so vinnig en kragdadig op te tree om hierdie tragedie te verlig nie.

Ten spyte van populêre opinie in die Weste, speel buitelandse opinie 'n amper weglaatbare rol in Chinese politiek. Sonder 'n demokratiese mandaat werk hierdie regering van dag tot dag in 'n stimulus-respons houding teenoor die 1.4 biljoen mense wat deur hulle stille aanvaarding die huidige leierskap duld. Met die spoed van informasie oor die internet, en die konnektiwiteit van Chinese burgers, kan die regering nie bekostig om in 'n noodsituasie soos hierdie te lyk of hulle laks is om te reageer nie.

Onlangse gebeure het gewys hoe sterk Chinese nasionalisme kan wees, en as dit ooit teen die regering draai, is hulle dae getel. Die geskiedenis wys dit keer op keer. Mense misverstaan China geweldig in die Weste: deels oor hulle eie onwilligheid om oop kaarte te speel, en deels as gevolg van ons eie vorm van breinspoeling. Wat ons vandag in China sien is 'n soortvan direkte demokrasie: daar’s nie tyd om te wag vir 'n verkiesing elke vyf jaar nie. Daar’s nie enige ideologiese gehegtheid aan langtermyn doelwitte nie.

Hier moet die regering oombliklik reageer om die mense se verwagtings na te kom, of -- andersinds -- dan om hulle aspirasies te deflekteer. Laasgenoemde was die norm vir dekades. As dinge sleg lyk, blameer Japan, Taiwan of die Weste. Die nuwe generasie Chinese word nie so maklik gekul nie. Hulle verwag opregte, onmiddelike optrede.En hulle kry dit.

Chinese premier Wen Jiabao, tegnies nommer twee in die land, na President Hu Jintao, is konstant op CCTV met 'n luidspreker in die hand, in die middel van die rommel, besig om mense moed in te praat. Sy gewoonlik saggesproke stem reeds rou van emosie, terwyl hy kinders troos en met 'n hardehoed op self aanmoedigings in die oorblyfsels van geboue inskree. "Kinders," sê hy, "dis julle oupa. Hoe moed." Daar na is hy te sien in gesprek met 'n snikkende dogtertjie. Hy praat saggies met haar en sy bedaar. Hy kry dit reg om die fotograwe en bystaanders te ignoreer. Dis net hy en die meisie hier. Hy ryk uit na 'n huilende baba, in sy ma se arms. Die kind hou op huil. Die ma sê dankie. 'n Politieke droom vir 'n westerse gehoor, maar daar's geen stemme op die spel hier nie.

As China môre stembus toe moes gaan, sal hierdie selfde regering met 99% van die stem wegstap. Daar’s 'n les hierin vir ons. Vir een ding: demokrasie is aansienlik meer as net 'n verkiesing.

Ten spyte van die regering se massiewe poging is daar tog berigte van bitterheid. Party mense wonder hoekom regeringsgeboue in die ergste beskadigde areas nog staan, maar soveel skole het inmekaar gesak. Ander beweer 'n geoloog, wat die regering wou waarsku, is stilgemaak. Mense wys selfs na 'n massa migrasie van paddas en vlinders weke voor die aardbewing, as profetiese tekens wat geïgnoreer is. Dis egter normale menslike reaksie, na so 'n ontstellende ervaring. Dié keer is dit almal se ervaring. Mense regoor die land het dit gevoel. Almal gaan vir jare nog onthou presies waar hulle was om 2:30 op 12 Mei 2008. Intussen het die publiek hulle harte en sakke oopgemaak. Kollekteringsbokse is oral in die stad te sien, en bloedskenkingsvoertuie het lang rye mense wat gereed is om by te dra. Geld strooom in van regoor die land en almal volg die nuus obsessief om te hoor wat die situasie is.

Die weermag het Dinsdagnag ongeveer elfuur eers Wenchuan bereik. Na 'n paar uur het hulle reeds 500 sterftes aangemeld, maar in 'n stad waar 80% van geboue totaal vernietig is, verwag hulle nou dat daar ten minste nog 12 000 mense vasgekeer of dood is.Ons het nounet berig ontvang dat die reddingswerkers vandag, Woensdag, vir die eerste keer sekere dorpe in die bergagtige gebied in sentraal Sichuan kon bereik, waar dit lyk asof meeste totaal en al vernietig is. Selfs hier in Xi’an, 630 km weg, is daar 22 mense dood. Die nuusberig sê nie hoe nie. Miskien het 'n gebou inmekaargesak, miskien was hulle minder gelukkig toe die teëls begin reën het. Maar, vir nou, gaan lewe weer aan soos normaalweg.

Skole is weer oop en die strate is nie meer so vol kampeerders nie. China Telecom het mobiele selfoon stasies opgestel en Starbucks, oorkant die straat, is oop. Mense vertrou al klaar weer die grond onder hulle voete. Want hoe kan mens anders? Die foto’s van dooie kinders raak meer op die internet. Die regering laat dit toe. Mense soek inligting, en niemand word verbied om foto’s te neem nie. Hulle lyk nes my studente, met hulle rooi serpies, maar hulle oë is toe. En elkeen van hulle is hulle ouers se enigste kind.


Help asseblief. Donasies kan hier gemaak word.

Please help. Donations can be made here.

No comments:

Post a Comment