Tuesday 21 February 2012

Hoe help mens vir Kristin Swarts?

Christina en Francois Swarts met Kristin.
tl;dr: Desperate ouers wil hul kind vir duur kankerbehandeling stuur by 'n verdagte dokter in Amerika. Dis dalk hulle laaste hoop. Watse raad gee mens hulle?


Die Omstandighede

Hoe ver sal jy gaan as jy jou kind se lewe wil red? Die ouers van Kristin Swarts, 'n driejarige van Atlantis in die Wes-Kaap wil Texas toe gaan, maar daarvoor het hulle groot geld nodig.

Rapport het laas Sondag van Kristin se stryd teen 'n soort breinstamkanker, genaamd ponsglioom, berig.

As agtergrondinformasie noem hulle bloot die feit dat die Swarts-gesin beplan om Kristin na 'n dr. Stanislaw Burzynski van Houston, Texas te stuur. Die feit dat ek weet daar is geen gevorderde kankerbehandeling wat nie hier in Suid-Afrika aangebied kan word nie het dadelik 'n rooi lig by my laat afgaan.

'n Enkele soektog op Google was genoeg om my tientalle skakels te gee wat toon dat hierdie dr. Stanislaw Burzynski nie heeltemal die wonderwerker is wat a.) die Swarts'e dink hy is nie en b.) hy voorgee hy is nie.


Ek sal later by die saak teen die goeie dokter kom, maar eers (vir mense wat al klaar sien in watse rigting dit gaan) wil ek sê die Rapport-verslaggewer het glo die man se verdagtheid met die gesin bespreek, en hulle is bewus dat sy behandeling "kontroversiëel" is.

Op daardie punt kan 'n koerant min doen: Jy moet die mense se besluite respekteer.  Ek kan glo die familie is desperaat, en dat hulle frustreerd is met al die ander dokters, wat net negatiewe nuus het (ongelukkig is dit op sigself 'n teken as daar eenstemmigheid onder gekwalifiseerde mediese dokters is).

Mens kan selfs argumenteer dis moontlik dat hierdie mense hulp sal kry van die enigste werklike hoop wat nog vir hulle oorbly: die plasebo-effek. Ek sou beslis alles in my vermoë wou doen om my kind te red. Wie is ek, dus, om hulle laaste hoop te probeer versuur?

Die Saak Teen Burzynski

"Antineoplastons"
Burzynski beweer hy gebruik "antineoplastons" om kanker te beveg. Hierdie goed kom in menslike urine voor -- dis basies aminosure en peptides. Hy beweer dit val kankerselle aan en maak hulle dood. Volgens die Amerikaanse National Cancer Institute is daar tot dusver geen fase 3 dubbelblinde studies van die effek van antineoplastons op menslike kankerpasiënte gedoen nie.
Die enigste toetse is deur Burzynski self gedoen by sy kliniek, en in al hierdie gevalle het die pasiënte ook standaard kankerbehandeling ontvang op dieselfde tyd. Selfs mét die standaardbehandeling het hy slegs gemengde (met ander woorde onbetroubare) resultate behaal.
Geen studies is tot dusver in enige portuurevalueerde joernaal gepubliseer wat enige lig werp op die gebruik van antineoplastons om kanker te behandel nie.
(Ook interessant om te let dat die newe-effekte van antineoplastons, wanneer teen breinkankers gebruik word, dievolgende genotvolle ervarings insluit: verwarring, beroertes en swelling van die brein.)
Lees die National Cancer Institute-verslag hier.

Sy reklame-materiaal is onwettig in die VSA
Omdat antineoplaston-terapie heeltemal gediskrediteer is, het die Food and Drug Administration hom verbied om dit in sy advertensies te gebruik. Hy het hom hieraan afgesmeer en is deur die Texas-staatsaanklaer hof toe gesleep om hom te keer om verder staat te maak op sy mislukte behandeling.
Lees die vreeslike vervelige hofuitspraak hier.


Hy gebruik 'n oordonderende klomp onverstaanbare publikasies
Hierdie sin sê dit mooi:

Unlike most "alternative medicine" practitioners, Stanislaw R. Burzynski has published profusely. The sheer volume of his publications impresses patients, but unless they understand what they are reading, they cannot judge its validity. To a scientist, Burzynski's literature contains clear evidence that his data do not support his claims.
-- Dr. Saul Green, op Quackwatch

Dis 'n tegniek van hierdie soort mense: shock & awe. Die pasiënt is desperaat, gefrustreerd. Gewone dokters stel hulle teleur, want selfs gewone medisyne is gekompliseerd, en hierdie faith healers vul die gaping tog te pragtig.

Menige resgtappe teen hom, selfs van 'n pasiënt
Net één pasiënt? Nee, maar luister hierna:

An elderly cancer patient claims a doctor used his clinics and pharmacy to bilk her of nearly $100,000 by persuading her to undergo a proprietary cancer treatment that "was actually a clinical trial," and charging her $500 per pill for drugs she could buy elsewhere for a fraction of that price.
-- "Cancer Patient Says Doc Used Her as ATM." Courthouse News Service, Jan. 19, 2012

In 2010 het die Texas State Board of Medical Examiners hom ook hof toe gevat, in 'n saak wat nog aangaan, met veelvuldige aanklagte van veelvuldige pasiënte. Dié klagtes kom daarop neer dat hy behandeling gebruik wat nie deur die FDA goedgekeur is nie, maar dit weet ons al, maar ook dat hy, soos die Anglosfeer sê:

Hy hedge sy bets
Dit beteken hy gebruik sy antineoplaston-terapie, én gewone ou chemoterapie... net om seker te maak dat ás sy wonderkuur nie werk nie (hierdie is die gawe interpretasie) die gewone chemoterapie dalk kan werk, en hy steeds kan sê dit was sy behandeling.
Hier is die siniese interpretasie: Die bliksem kan enige newe-effekte op die chemoterapie blameer, asook enige mislukkings... Op dié manier is dit 'n wen-wen-situasie vir hom: As die pasiënt rekom is dit hý, halleluja. As die pasiënt dood gaan, is dit omdat hy "gedwing" word deur die bose mediese establishment om die giftige chemoterapie óók te gee.
Dit herinner my aan knoffel en suurlemoene.
As jy meer wil lees, stel ek voor BoingBoing se verskeie ondersoeke na hom en sy praktyk is 'n goeie plek om te begin.

Wat nou gemaak met Kristin?
Wat sê mens vir mense wat net graag hulle kind se lewe wil red, en één mens in die hele wêreld belowe om dit vir hulle te doen?

Dis die grys-area. Ek weet regtig nie. Ek hoop iemand sien hierdie en praat met hulle daaroor. Ek hoop iemand kan hulle beter inlig as ekke. Ek hoop nie hulle verloor ál hulle geld én hulle dogter nie.

As 'n naskrif, dieselfde ding het al in Engeland gebeur. In daardie geval het 'n skoolseun, Rhys Morgan, 'n blog geskryf waarin hy die twyfelagtigheid rondom Burzynski ontbloot het. Hy't selfs 'n bietjie moeilikheid van Burzynski se prokureurs gekry.

Dis egter interessant om te sien wat heel onderaan sy storie staan:

The family has asked us to make clear that members of the family completed a long and thorough period of research across a wide range of conventional and alternative treatments, both in the UK and abroad, before approaching the clinic. They say thay are fully aware of the controversy surrounding these and many other experimental treatments.
Lees die storie hier by The Guardian.


As mense desperaat is, sal hulle enigiets doen.

No comments:

Post a Comment