Friday 17 February 2012

Resensie: The Neighborhood Project deur David Sloan Wilson


Die teorie van evolusie is al gekritiseer dat dit nie gebruik kan word om voorspellings te maak nie.

Dis natuurlik bog: Darwin self het al daarmee voorspellings gemaak, soos oor watter fossiele in watter soort rotse gevind behoort te word.

Maar mense vind sulke voorspellings onbevredigend; dit sê niks oor die toekoms nie. Evolusie gaan wonderlik onvoorspelbaar te werk wanneer dit – as’t ware – gelos word om in vrede te funksioneer.

Nou is daar ’n nuwe benadering tot evolusie waarmee gepoog word om hierdie wetenskap in te span om van ons wêreld, en dié van die toekoms, ’n beter plek te maak.

David Sloan Wilson, professor in biologie en antropologie, skryf The Neighborhood Project met die energie en geesdrif van ’n wedergebore Christen (verskoon die ironie): In sy navorsing het hy ’n “gloeilamp-oomblik” beleef toe hy besef evolusie kan oorspoel na ons daaglikse lewe.



Dít deur interdissiplinêr betrokke te raak by die ander wetenskappe van menslike optrede, soos sielkunde, stadsbeplanning, omgewingsbewaring, opvoeding, wetstoepassing en (hoekom nie?) die wêreldpolitiek.

Wilson wil ons toerus om alledaagse probleme op te los en toekomstige menslike optrede te voorspel, gegrond op die beginsels wat die evolusieteorie (sien voetnota) die afgelope 150 jaar aan ons geopenbaar het.

En hy bedoel dit nie metafories nie: Vorige kommentators het al erg te velde getrek teen die verwarring wat kan ontstaan as evolusie as ’n maklike metafoor gebruik word vir kulturele ontwikkeling. Wilson probeer nie die kinderlike vergelyking maak tussen “dinge wat verander” en die wetenskaplike beginsels inherent aan evolusie nie.

Nee, hy kyk spesifiek na die ryk implikasies van die evolusie van menslike gedrag – insluitend die gedrag wat ons met ander diere deel, asook die gedrag wat aan ons uniek is, gevorm op die aambeeld van die lewe.

Hy vra die vraag: Hoe behoort ons te lewe, in ag genome dat ons miljoene jare heeltemal anders gelewe het as wat ons tans lewe met ons stede, karre, politieke partye, skoolstelsels en al die besoedeling in ons borskaste?

Die mens se omgewing van evolusionêre aanpassing – die wêreld waarin ons liggame gevorm is en wat ons optredes en instinkte geslyp het – is nou onherkenbaar, maar ons liggame en ons breine is steeds gewoond aan die ou manier van doen.

Soms lei dit tot onvoorsiene gevolge: asma, outo-immuun-aandoenings – siektes wat die gevolg is van ’n vinnig veranderende landskap waarmee ons evolusie nie kan tred hou nie.

Ook ons interpersoonlike verhoudinge word kortgesluit. Bestuurders het byvoorbeeld nie die toerusting om menslik met mekaar vanuit hul motors te kommunikeer nie en dit lei tot angs, konflik en padwoede.

Wilson het die spulletjie só bekyk en besluit hy gaan begin met ’n gemeenskapsprojek in sy eie stad, Binghamton in die plattelandse deel van die staat New York, en hy gaan dié projek skoei op die lesse van evolusie.

Die boek is ’n hoogs vermaaklike reis deur elke nuwe beginsel, wat hy aanbied soos ’n soort Bybelse gelykenis. Dit is ’n Just-So-storie waarin hy die leser diep in die biologiese wêreld begelei met staaltjies oor diere- en menslike evolusie wat duidelik die natuur se uitwerking op ons optrede demonstreer en dan raak hy aan die fassinerende wyses waarop hy en sy span dié strukture op klein skaal binne sy stad probeer implementeer.

Hy stel die leser voor aan verskeie wetenskaplikes en vertel hul stories sodat die individu se eie paadjie deur die lewe ’n menslike aspek kan gee aan die wetenskap wat gepleeg word.

Hy doen wondere vir die algemene indruk van wetenskap (as iets kouds en onpersoonliks) en benadruk die bevrediging en verryking wat mense ervaar wat van onkunde tot insig beweeg.

Wat hy bepleit, is ’n radikale her-verwesenliking van ons verhouding tot mekaar, teenoor die natuur en teenoor die wetenskap.

Hy is sy tyd, helaas, ver vooruit. Sommige van sy verhale skop teen huidige algemene opvattings, soos die skool wat hy beskryf waar daar geen formele onderrig plaasvind nie. Die kinders is nie in klasse ingedeel nie sodat die jonger kinders by die oueres leer en waar kinders van enige ouderdom regstreekse seggenskap het in die administrasie van die skool. Dit skrei ten hemele teen die werklikheid waarmee ons nou sit, maar hy wys dit is ’n model wat werk, en baie goed werk.

In hierdie boek, soos in baie aspekte van evolusie, moet jy (wat jy beskou as) common sense oorboord gooi en toelaat dat die natuur jou oorrompel met sy innoverende oplossings.
Skeptiese lesers sal dalk die idee kry dat hy die mens reduseer tot die vlak van die diere wat hy as voorbeelde gebruik – bye, wespe, waterhondjies, kraaie – maar dis vir hom ’n punt van eer om die mens tog ’n spesiale plek te gee. Ons is die een spesie wat nie net kan weet hoe ons van daar doer in die verlede tot hier gekom het nie, maar uiteindelik kan ons ook ’n plan maak om van hier vooruit te gaan tot waar ons eendag graag wil wees.

Mense wil glo dat ons produkte van ons omgewing is, eerder as ons gene. Wilson sê: “Many people reject evolution or deny its relevance to human affairs, not because it threatens their religious beliefs but because it threatens their belief in human potential.”

Hy poog om te wys hoe verkeerd dié formulering is, en dat kennis van die evolusieteorie ’n voorvereiste is vir die mens om sy volle potensiaal te bereik, of dit nou in Binghamton of elders op aarde is.

In die 1990’s het die studie van kompleksiteit ’n sintese bereik en toe is vingers in heelwat ander velde begin steek en die wêreld het ’n ongekende oplewing in kennis beleef. Nou is dit die beurt van evolusie om ons unieke selfbewustheid ’n gereedskapkis te gee om beheer te neem van ons toekoms.

The Neighborhood Project kan dalk eendag onthou word as die inspirasie agter ’n nuwe skakel tussen die mens en sy komplekse omgewing.

Voetnota: Evolusie is ’n proses en word deur niemand wetenskaplik betwyfel nie. Die “teorie” van evolusie verwys nie na ’n hipotese nie, maar na die model wat ons bou om daardie proses te beskryf. Mense verwar soms die baie spesifieke wetenskaplike term “teorie” met die manier waarop die woord in die omgangstaal gebruik word om “raaiskoot” te beteken. Evolusie is ’n bewese feit; ons beskrywing daarvan is die teorie.

- Marius Visser, Rapport 5 Februarie 2012

No comments:

Post a Comment