Tuesday 21 February 2012

Resensie: So lig soos klip deur Jacques Pretorius


tl;dr: Hoekom kan Afrikaanse skrywers nie net stories vertel nie? Back to basics vir julle almal.

Vroeg in So lig soos klip sê die verteller: “Daar is vir hulle gelees en gebid, en die res van die dag is hulle opgefok en uitgekak.”

Die boek handel oor ’n seun van Fietas (Pageview en Vrededorp) in Johannesburg wat deur sy armoede en sy ouers afgeknou word en dan nog deur God, die staat en die polisie in ’n loop gelaai word om te dien as kanonvoer teen die swart, rooi en veralgemeende totale aanslae. 

As jy wit en oor 30 is, is dit die storie van jou lewe. (They fuck you up, your mum and dad, sê Philip Larkin; hy bly relevant regdeur die boek. ) 

Die kind, wat naamloos bly, is ten gronde ’n goeie mens (gebore in onskuld, ens.), maar die skuldgevoelens van godsdiens en die atmosfeer van militarisme, waar die doel altyd die middele heilig, maak van hom ’n emosionele slagveld. 


Oënskynlik verwys die titel onder meer na die menslike siel wat uit die konkrete swarigheid (en concrete soos in: beton) van sy bestaan wil opstyg, asook na die harde klip wat ons almal uiteindelik ses voet bokant ons koppe gaan hê.

Dis met ander woorde ’n her-stelling van The Unbearable Lightness of Being, maar dit gooi ook laat in die boek ’n verwysing na die energie wat (volgens goeie ou Einstein) verpak is in selfs die ondinamiese koudheid van ’n klip. 

Ná ’n lukrake versameling van sketse van sy kleintyd in die gopse (Tant Stienie-styl met baie name-dropping van handelsmerke: Jungle Oats, Dunhill, Wilson-toffies, Scope, Lexington, zamalek, die TV-reeks Sol en Gobelet, Billabong, Iron Maiden), afgewissel met sy opleiding in Pretoria as ’n polisieman, word hy... ’n man. Watse man (my liewe kind)? ’n Boereman, natuurlik: een wat aanhou droom van als wat hy kon vermag het – as hy maar net liefde gehad het. (“Nothing cures that,” sê Philip Larkin.) 

As “man” in die polisie, gedurende die ergste onluste van die 1980’s, begin sy persoonlike konflik en die land se lopende sere afstuur op ’n noodlottige kettingbotsing. 

Die karakter bereik nooit volwassenheid nie, en die gedoemde land waarin hy leef weerspieël dit – arrested development; ’n doodloopstraat/bose kringloop met net een moontlike uiteinde. (Annihilation, natuurlik : matter & antimatter.) 

Bildungsroman, dus (my woord van die week; ek probeer dit by soveel moontlik gesprekke betrek), maar dis ’n onvoltooide een: Dis die storie van ’n kuiken wat sy dop oopbreek, maar nie veel verder vorder nie. Man, Interrupted; en by implikasie is dit die manlikheid wat vir almal beskore is wat in die verstandelike en fisieke gewelddadigheid van Afrikaner-apartheid grootgeword het. 

Kom ek wees reguit: Die boek is nie baie goed nie. Dit ly aan literêre pretensies, en mens wonder of die skrywer nie êrens die idee gekry het dat Afrikaanse boeke haute couture moet wees nie. Wat eintlik ’n respektabele en straightforward (prêt-à-porter?) storie moes wees, word bederf deur tussenposes van tandknersende interne melodrama, wat die leser óf koud laat óf laat gril van woordadigheid: “... die rou etter van die mens se geskiedenis, van dit wat ons al eeue gelede was en dit wat ons intussen geword het.”
(Mens kan nie daarmee stry nie... dink ek.) 

Die struktuur is goed. Die beplanning is goed gedoen. Die storie gaan vol sirkel, maar dit moes ’n kortstorie gewees het. 

Die eerste helfte van die boek bestaan uit sketse; daar’s geen handeling nie, geen “agentskap” nie. Die kind se verwarde kleintyd word aangebied (vertel). Karaktereienskappe word verduidelik. Ek sou verkies het dat die boek begin waar die hoofkarakter vir die eerste keer iets doen uit sy eie uit. 

Die doel van die kindertyd-sketse is natuurlik om ons meegevoel te gee vir die hoofkarakter; wanneer hy uiteindelik tot daad oorgaan, maak hy staat op ons begrip. Maar dit misluk: Ek het nooit van hom gehou nie, selfs nie as kind nie. Hy’t deur doodgewone ervarings gegaan – nee, dood-volop ervarings – wat die skrywer met woorde probeer intensiveer, maar soos Yazoo sê: “Reasons fight against excuses.” 

Om te verstaan hoekom hy iets doen, is nie dieselfde as om daarvoor empatie te hê nie. Hy bly ’n laakbare sukkelaar; geen simpatie van my af nie. 

Karakteropenbarende handelings – iets wat ons op skool moes staaf met voorbeelde van, wel, handelings – word in hierdie boek eenvoudig aan die leser vertel: “Soos op skool sien niemand hom raak nie.” “Sy was nie eens meer van hom bewus nie.” 

“Ek wou my werklikheid en myself herontwerp.” “Nou is hy ’n slag aan die ander kant wanneer geboelie word.” 

Die verwysings wat mens in die teks raakloop word nie bymekaar gevoeg om groter te word as die som van sy onderdele nie. Dit vorm slegs deel van die stelinkleding, soos plakkate teen ’n muur. 

Die literêre aanslag maak die boek vir lang stukke harde werk om te lees. Die sprankelende frases – die oorspronklike turn of phrase wat boeke vermaaklik maak – ontbreek, en by tye lees jy omdat jy betaal word (ek wórd, so ek het). 

Die raad aan skrywers (van Elmore Leonard) lui dat jy die stukke moet uitsny wat jou leser gaan wil oorslaan; wel, dis min of meer ’n opsomming van die eerste helfte. Die leser wil nie lees van mense oor wie hy nie omgee nie, wanneer hy nie weet wat aangaan, hoekom hulle só voel, wat nounet gebeur het, ensovoorts, nie. En die leser wil nie aan ’n tak hang vir 200 bladsye om uit te vind wie se bloed dit is nie. As die skrywer iets weet, moet hy dit deel, anders word hy ’n vermoeiende sirkusbaas wat wil hê ek moet deur hoepels spring. 

Gee my die informasie, sodat ek self kan besluit of ek omgee. 

Die laaste element wat die boek minder as bevredigend maak, is die gebruik van huidige en verlede tyd. In Afrikaans gebruik ons die teenwoordige tyd – die historiese presens – om stories te vertel: dit maak die aksie meer dringend, en die sinne korter. Die skrywer wat verlede tyd gebruik het, moes ’n damn goeie rede gehad het. In dié boek word daar rondgespring tussen die twee. 

Party stukke van die vertelling is vol “het ge-” en dan ’n sin later is dit weer nou-tyd. Soms werk dit, en skep ’n effek soos ’n kamera wat inzoom, maar die meeste van die tyd hou dit jou op armlengte van die aksie. Dit voel in die lang verledetyd-vertellings, nie asof daar enigiets gebeur nie; net asof ’n lang, vervelige, voorafbepaalde uitkoms aan jou verduidelik word. 

Waar die aksie egter onemosioneel en “teenwoordig” beskryf word (meestal in die Sharpville-onluste-deel van die boek), bereik dit ’n meesleurende momentum; ’n lekker uitasem aksiefliek.
Maar dis te min, te laat. 

Ek het wel ’n ongekorrigeerde proefafskrif van die boek gelees; dus moet ek versigtig wees om kritiek uit te spreek oor iets wat dalk kan verander (soos tikfoute, waarvan daar ’n paar is). Maar soos ek hom het bevat die boek ’n paar juwele: “... skuimend sy lus, sy skuimende lyf en lus en skuld, hy is skuldig, o, so skuldig” (Sannie sê Sannie sal sewe...); “... asof hy meegesleur word deur ‘n groot krag.” (Wat anders gaan jou meesleur – kleinerige kragte?); “... ek word lig, lig soos ’n sydissel wat op, op, op in die helderte van die dag, o, kom, Here, ek kom gou.” (Dít net na afloop van ’n banale sekstoneel. Haha.); en “... klinknaelbroek ...”. 

En daar is die verstommende geval van die man wat “op sy rug gelê” het, en “die rooi gat presies in die middel van sy rug” was duidelik sigbaar. 

Die verlede tyd – en die sketse van die eerste deel – laat dit soos ’n memoir voel. As jy voel jy het dieselfde ervarings gehad: geboelie deur jou ouers, die staat, die Kerk, die weermag (Man hands on misery to man – weer Larkin. ) dan sal jy dalk die broederskap geniet. 

Vir die aspirant-skrywer is dit dalk – ten spyte van die ooglopende swak plekke in die boek – meer fassinerend en leersaam om te kyk wat Pretorius plek-plek goed gedoen het. Dis nie ’n onleesbare boek nie, maar in die parlance van ons tyd: jy gaan die politieke wil moet bymekaarskraap.

Rapport 19 Februarie 2012 (Geredigeerde weergawe) 

No comments:

Post a Comment